Die jaar is skaars verby ‘n derde en mense se geduld is op. Dit kan waarskynlik aan verskeie faktore toegeskryf word. Die ekonomie. Groot besighede wat toemaak en ‘n geweldige invloed op die werkloosheidsyfer het. Oorloë in ver lande wat ons direk of indirek raak.
Ek is op pad na ‘n kliënt en stop gou by ‘n plaaslike besigheid wat onder meer pakkies wegstuur. Die ry van mense wat by die deur uit staan, laat my moed in my skoene sak. Ek sal later moet terugkom.
Op pad na my motor draf ek gou by ‘n kettingwinkel in en neem twee produkte van die rak af. Binne oomblikke is ek by die betaalpunte.
Die ry by die betaalpunt vir minder as tien artikels is baie lank.
Nog twee betaalpunte is oop.
Ek gaan staan by die betaalpunt waar dit lyk of die ry die vinnigste beweeg. ‘n Vrou met ‘n inkopietrollie druk voor my in.
“I was here first. I just fetched something.”
En net daar, op daardie oomblik, is my geduld op.
“Dit is te lekker,” sê ek hardop.
Ek let die vreemdeling langs my op. Hy is merkbaar ontsteld.
“You lose your place in the queue when you leave,” verduidelik hy vir haar. Dit val op dowe ore.
Toe sy deur die betaalpunt beweeg, draai sy na my en vra: “May I use your shopper card?”
Ek staar haar woordeloos aan. Dan haal ek my kaartjie uit my beursie en gee dit vir haar.
“Jy druk in en dan wil jy my kaartjie gebruik om afslag te kry.”
Sy trek haar skouers tot onder haar ore en laat dit weer sak.
Almal se geduld raak op. Ongeag daarvan moet ons by basiese goeie maniere hou. Vra asseblief. Sê dankie. Groet vriendelik.
En moet nooit, maar nooit, voor iemand indruk nie.


