Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard
Noordkaap Bulletin

MENING | Alles in die wêreld word nie deur brandstofprys bepaal nie


Die gevreesde en bangmaak-brandstofprys kom te midde van die skoolvakansie en Paasnaweek, waarmee rondry en wegbreek vir talle sinoniem is.

Kombineer dit met die onsekerheid van hoe ver presies ander mense se oorloë, duisende kilometer van hier, ons aan die suidpunt van Afrika gaan raak, en ‘n mens voel kriewelrig.

Dan lees ‘n mens boonop dat Noord-Korea voortgaan met toetsing van interkontinentale ballistiese missiele.

Hieroor sê militêre kenners in dié land, wat ongeveer so groot soos die Vrystaat is, dat die vraag nie meer is of ‘n Noord-Koreaanse missiel die Verenigde State kan bereik nie, maar of dit verskeie kernkoppe kan dra.

LEES OOK: Kim inspects engine test amid North Korea’s push for global strike capability

Wend ‘n mens jou oë af van wêreldnuus, lees jy van die onlangse herbegrafnis van San- en Khoi-voorvaders by Kinderlê naby Steinkopf.

Jy lees van ernstige beskuldigings dat die regering die geleentheid wat deur diepe genesing en eerbetoon gekenmerk moes wees, vir politieke gewin gekaap het.

Dit boonop so kort ná Menseregtedag.

Intussen begin die politieke moddergooiery in Suid-Afrika – wat maar kenmerkend van enige politiek is – momentum kry in aanloop tot die munisipale verkiesings later vanjaar.

Dit alles bring ‘n gevoel van frustrasie, want dit herinner ons te veel aan die genadeloosheid van politiek en ekonomie oor die wêreld heen.

En eintlik wil ons net iewers in die koel herfsluggie sit, kyk hoe die eerste herfsblare neerdaal aarde toe, hoe die akkedisse ontspanne in sonkolle bak, hoe voëls vry op lugstrome rondsweef, en Paaseiers eet.

Die prys by die pomp kan dalk ons sak ruk. Gebeure oor die wêreld heen en in eie gebied staan ‘n mens nie altyd aan nie.

Dit wek kommer en soms vrees.

Die woorde “This too shall pass”, is eeue gelede neergeskryf – ‘n herinnering dat nóg die negatiewe nóg die positiewe oomblikke in die lewe ooit onbepaald duur.

Hier kan Jane Goodall, primatoloog en natuurbewaarder, ook aangehaal word: “You cannot get through a single day without having an impact on the world around you.

“What you do makes a difference, and you have to decide what kind of difference you want to make.”

Laat hierdie Paasnaweek – met of sonder Paaseiers of rondry – ‘n herinnering wees dat álles, soos die vriendelikheid, geloof en liefde van mense, nie deur die brandstofprys of wêreldleiers bepaal word nie.

En besef dat jy as individu wel ‘n positiewe verskil in die wêreld kan meebring, al is dit net in jou eie wêreld.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article