PAARL – Niemand is nog vir die grusame en pynlike moord op ‘n middeljarige vrou verlede week in Lemoenkloof in die Paarl in hegtenis geneem nie. Die vrou is sedertdien as Kotie Nel (57) van Velddrif uitgeken.
Paarl Post verneem dat sy die woning in Pleinstraat ten tyde van haar wrede dood die afgelope Donderdagoggend (26 Maart) opgepas het.
Sers. Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het bevestig dat die Paarl-polisie tans ‘n moordsaak ondersoek nadat Nel dood in die huis aangetref is.
“Polisielede het die misdaadtoneel besoek, waar hulle die slagoffer met steekwonde aan haar liggaam gevind het. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” verduidelik Twigg.
Vandeesweek het kapt. Frederick van Wyk, ook ‘n woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, by navraag bevestig niemand is nog in verband met Nel se moord vasgetrek nie. Hy het net gesê die saak word steeds ondersoek

Volgens inligting wat deur Paarl Post bekom is, was die eienaars van die woning nie ten tyde van die voorval tuis nie.
Die eiendom bied ook verblyf en beskik oor selfsorg-eenhede. Vroeër is beweer Nel is deur ‘n werknemer, wat onlangs aangestel is, vermoor.
Met Paarl Post se aankoms op die toneel was verskeie polisievoertuie, die Boland-honde-eenheid, asook patologiese dienste teenwoordig. Die liggaam is teen daardie tyd nog nie uit die woning verwyder nie. ‘n Klein groepie mense het buite die perseel saamgedrom en aangedui hulle werk daar, maar niemand was bereid om kommentaar te lewer nie.
Niel Hofmeyr, wat saam met sy familie in die huis woon en met wie Paarl Post telefonies kontak gemaak het, wou ook nie kommentaar lewer nie.
Paarl Post se susterskoerant, die Weslander, het die naweek berig Nel het onlangs van Reebok naby Mosselbaai na die Weskus verhuis.
Die raadslid Anton Dellemijn, die uitvoerende raadslid vir infrastruktuur en dienste by die Mosselbaai-munisipaliteit, het op Facebook geskryf hy het met groot skok en hartseer van die wrede afsterwe “van ons geliefde Kotie Nel” verneem.
“Ons gemeenskap is in rou. Kotie was geliefd. Sy het altyd die ekstra myl gestap om haar medemens te help. Hierdie tragiese gebeurtenis laat ‘n groot leemte. Ons gebede en innige meegevoel is met haar familie, vriende en almal wat haar liefhet. Mag julle vertroosting vind en mag die Liewe Vader julle omring met Sy vrede en teenwoordigheid in hierdie moeilike tyd.”
Enigiemand met waardevolle inligting oor die moord kan die Paarl-polisie by 021 807 4000 kontak. Alternatief kan die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, ook geskakel word






You must be logged in to post a comment.