PAARL – ’n Skokgolf het op Donderdagoggend 26 Maart deur die Paarl getrek toe ’n 57-jarige vrou wreed in ’n woning in Pleinstraat in Lemoenkloof vermoor is.
Sers. Wesley Twigg, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval bevestig. Volgens hom ondersoek die Paarl-polisie tans ’n moordsaak nadat die vrou dood in die huis aangetref is. Die personeel van verskeie nooddienste was op die toneel teenwoordig.
“Polisielede het die misdaadtoneel besoek, waar hulle die slagoffer met steekwonde aan haar liggaam gevind het. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” het Twigg gesê.
Die voorval het glo omstreeks 09:30 plaasgevind. Die omstandighede rondom die moord word tans ondersoek.
Teen publikasie kon die polisie nie bevestig of enige arrestasies gemaak is nie.

Volgens inligting wat deur Paarl Post bekom is, was die eienaars van die woning ten tyde van die voorval nie tuis nie. Iemand het glo die huis opgepas.
Daar word beweer dat hierdie persoon deur ’n werknemer wat deur die eienaars in diens geneem is en wat onlangs aangestel was, doodgesteek is.
Met Paarl Post se aankoms op die toneel was verskeie polisievoertuie, die Boland honde-eenheid, asook patologiese dienste teenwoordig. Die liggaam is teen daardie tyd nog nie uit die woning verwyder nie.
’n Klein groepie mense het buite die perseel saamgedrom en aangedui dat hulle daar werksaam is, maar niemand was bereid om kommentaar te lewer nie.
Die eiendom bied ook verblyf en beskik oor selfsorg-eenhede.
Niel Hofmeyr, wat saam met sy familie in die woning woon, wou ook nie kommentaar lewer nie.





You must be logged in to post a comment.