Moordverdagte bly agter tralies vir Kotie Nel-moordsaak

Wyle Kotie Nel

Moordverdagte bly agter tralies vir Kotie Nel-moordsaak


Die verdagte in die moordsaak van Kotie Nel het verlede Woensdag (29 Julie) sy eerste verskyning in die Paarl-landdroshof gemaak.

Nkosibanile Mpangawa is verlede Maandag (27 Julie) in die Samora Machel-gebied in Kaapstad deur die polisie vasgetrek, nadat hy sedert Nel se wrede dood voortvlugtend was.

Nel is op 26 Maart in ‘n woning in Pleinstraat in die Lemoenkloof-woonbuurt dood gevind.

Sers. Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het voorheen bevestig dat beamptes verbonde aan die Paarl-polisie Nel in die huis met veelvuldige steekwonde gevind het.

Ten tyde van haar dood het die 57-jarige vrou haar susterskind se huis en dié se gastehuis, wat op dieselfde erf is, opgepas. Nel was eintlik woonagtig in Velddrif aan die Weskus.

Kort nadat die gru-ontdekking gemaak is, was Mpangawa nêrens te vind nie. Daar was verskeie leidrade op die toneel wat daarop gedui het dat hy moontlik verantwoordelik vir die moord kon wees. Dit sluit bebloede klere en voetspore in.

Dit het ook aan die lig gekom dat die 39-jarige Mpangawa deur die Oos-Kaapse polisie in verband met die moord op sy broer gesoek word.

Mpangawa het verlede week gehoor hy staan tereg op aanklagte van roof met die doel om ernstig te beseer en moord in die Paarl-landdroshof.

Intussen het Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor die polisie, die inhegtenisname verwelkom.

“Ek is baie dankbaar vir die arrestasie en ook die feit dat hy positiewe inligting mag hê oor ‘n moord in die Oos-Kaap. Ek dink dit skep ‘n bietjie gemoedsrus, veral met die feit oor die wreedheid en wat hy [na bewering] gedoen het. Dit gaan baie interessant wees om te sien hoe hy kies om dit [die saak] voorts te benader. Gaan hy pleit of nie? Ek hoop dat hy die nodige swaar nagevolge sal hê vir sy [beweerde] aksies en dat dit as ‘n voorbeeld vir ander sal dien.”

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het by navraag gesê Mpangawa het gekies om nie aansoek om borgtog te doen nie. Die saak is tot 7 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article