Met die intreeslag van die verdagte in die hofsaal waar hy tereg staan weens die moord op die 20-jarige Lemarsh Blanckenberg, het die oorledene se ma in trane uitgebars.
Die 19-jarige Ikraam Sitzer het vanoggend (Maandag 8 Junie) vlugtig in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hy vroeër deur die polisie in verband met die moord aangekeer is.
Blanckenberg is verlede Woensdagaand (3 Junie) oorlede nadat hy in die Nederburg Heights-woonbuurt doodgesteek is. Hy het kort daarna in Shirazstraat inmekaargesak en aan sy wonde beswyk. Volgens sy suster Ilona Manual het hy by vriende gekuier in daardie omgewing en was hy op pad huis toe, toe die voorval gebeur het.
Gwala verduidelik dat speurders verbonde aan die Paarl-Oos-polisie om 22:07 Blanckenberg se liggaam in Shirazstraat gevind het.
“Die oorledene is op sy rug gevind met ‘n oop wond bo sy linkeroog en bors. Hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en die motief is in hierdie stadium onbekend.”
Lees ook: Paarlse jongman (20) verloor lewe in beweerde bende-insident
Die familie het vroeër aan Paarl Post gesê hulle het inligting ontvang oor wie die verdagte is en dat die motief na bewering met die jong verdagte se inisiasie by ‘n bende verband hou.
Tydens die hofverskyning het Sitzer aangedui dat hy sy eie verdediging wil behartig, maar die landdros het hom aangeraai om gebruik te maak van regshulp as gevolg van die erns van die klagte teen hom. Die landdros het ook verduidelik dat die saak ‘n bylae 5-oortreding is wat ‘n ernstige strafsaak is en dat Sitzer minstens 15 jaar gevangenisstraf opgelê kan word.
Blanckenberg se ma, Mellissa Manuel, en sy suster het die hofsaal verlaat nog voor die verrigtinge afgehandel is.
Die saak is tot 15 Junie vir borgtoginligting uitgestel.





