‘n Beweerde bende inisiasie het Woensdagaand (3 Junie) die lewe van ‘n onskuldige jongman in Paarl-Oos kortgeknip.
Die 20-jarige Lemarsh Blanckenberg is omstreeks 23:00 oorlede nadat hy wreedaardig in die Nederburg Heights-woonbuurt doodgesteek is. Hy het kort daarna in Shirazstraat in mekaar gesak en aan sy wonde beswyk. Volgens sy suster Ilona Manual het hy by vriende gekuier in daardie omgewing en was op pad huis toe, toe die voorval gebeur het.
Volgens die familie het hulle inligting ontvang oor wie die vermeende verdagte is en dat die motief na bewering met die jong verdagte se inisiasie by ‘n bende verband hou. “Al hierdie inligting sal met die polisie gedeel word,” sê Ilona.
Ilona sê haar ma, Mellissa Manual, is in ‘n toestand en was self ook op die toneel nadat die polisie die familie ontbied het. Lemarsh se pa, Alfonzo Blanckenberg, is ‘n bekende sanger op die dorp en is tans op toer in Spanje. “Sy pa is besig om reëlings te tref om spoedig terug te kom Suid-Afrika toe,” verduidelik Ilona.
Sy sê wat die familie die hardste tref is die manier hoe Lemarsh uit die lewe geruk is.
“Ons is stukkend. Dit is nog ‘n groot skok vir ons en dit voel nog onrealisties. Dit was skielik en die manier hoe hy weg is, want hy was nie ‘n deurmekaar kind nie. Dit is vir ons eintlik ‘n groot skok – hoe hy weg is. ‘n Vriend van my wat in die straat woon het my gebel om te sê dat Lemarsh dood in die straat lê en dat ek my ma moet laat weet. Ek het onmiddellik my ma gebel en gesê hulle moet daarheen gaan. Toe my ma op die toneel aankom het sy hom uitgeken.”
Lemarsh was ‘n kranige sportman en was in 2023 Klein Nederburg Sekondêr se o.19A sokkerspan se kaptein.
“Hy was baie lief vir sport en was met sy dood betrokke by ‘n krieketklub in Chicago. Sy groot droom was om eendag vir Suid-Afrika krieket te speel.”
Buiten sy liefde vir sport het Lemarsh sy oog op toerisme gehad. Volgens sy ma was dit haar seun se droom om eendag deur die wêreld te reis.
Volgens Ilona is geen begrafnisreëlings nog getref nie, maar sal dit spoedig gedoen word.
“Ons wil net hê geregtigheid moet geskied vir my broertjie sodat hy in vrede kan rus.”
Navrae is aan die Paarl-Oos polisie gerig en sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.



