Die twee Paarlse klubrugbyspelers het vandag (8 Junie) vlugtig in die Wellington-landdroshof verskyn vir die voortsetting van hul borgtogaansoek. Die saak is egter tot Woensdag (10 Junie) uitgestel nadat die verdediging aangedui het dat hulle steeds op soek is na ‘n hofopname van verrigtinge wat op 8 Mei plaasgevind het.
Tydens dié verrigtinge het kol. Winston Pegram van die Paarlse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele Misdrywe (FCS), die ondersoekbeampte in die saak, getuig.
Die voorsittende landdros, Marti Wilson, het die staat, verteenwoordig deur streeksaanklaer adv. Hamley Marquard, gevra of daar enige beswaar teen die uitstel is.
Marquard het aangedui dat die staat geen beswaar het nie.
Volgens die verdediging, onder leiding van Elton Rochert van Elton Rochert Attorneys in Kaapstad, word die opname gesoek omdat dit na bewering sal aantoon dat Pegram getuig het dat die beserings wat die klaer opgedoen het en wat in die mediese verslag aangeteken is, met konsensuele seksuele omgang ooreenstem.
Die J88-vorm, wat deur ‘n mediese dokter voltooi word om fisiese beserings in strafsake te dokumenteer, dui twee beserings by die klaer aan. Volgens die vorm het die klaer se vroulike liggaamsdeel beserings opgedoen wat toegeken kan word aan “penetrasie met ‘n stomp voorwerp,” terwyl haar posterior commissure, die area aan die agterkant van die vroulike geslagsdeel, klein skeurtjies bevat het.
Landdros Wilson het egter gesê haar aantekeninge weerspieël dat Pegram op 8 Mei getuig het dat hy nie ‘n mediese dokter is nie en daarom nie ‘n mening kan uitspreek oor of die beserings met konsensuele seks ooreenstem nie.
Die verdediging het daarop aangedring om na die opname van die verrigtinge te luister.
Die hof het vandag gehoor dat die betrokke opname nog nie opgespoor kon word nie. Die verdediging het gevolglik versoek dat die saak tot Woensdag uitgestel word om verdere pogings aan te wend om die opname te vind.
Wilson het gevra of die verdediging intussen met die res van hul kruisondervraging van Pegram wou voortgaan. Rochert het egter aangedui dat hierdie aangeleentheid die laaste aspek is wat die verdediging wil aanspreek voordat hul ondervraging afgehandel word.
Die twee klubrugbyspelers, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, staan tereg op vier aanklagte van verkragting van ’n 21-jarige student aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT).
Die student is na bewering in die vroeë oggendure van 27 April in haar kamer by ’n studentehuis vier keer verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ’n saamrygeleentheid vanaf ’n nagklub in Newton in Wellington na haar studente-akkommodasie gegee het.
Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n bekende rugbyklub in die Boland, maar sou op 3 Mei by ‘n nuwe rugbyklub in Limpopo aansluit. Die 28-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n rugbyklub in die Swartland-distrik.
LEES OOK: Landdros weier om van rugbyspelers se borgtogaansoek te onttrek
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.
Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.



