‘n Jong man van die Noord-Kaap is Maandagaand (3 Augustus) na ‘n raakrugbywedstryd in die Paarl oorlede.
Paul Klaasen (18) ook bekend as PJ, ‘n onderwysstudent in sy eerste jaar aan Akademia, het volgens dié universiteit kort voor sy dood ‘n informele raakrugbywedstryd saam met ‘n paar van sy medestudente by die universiteit se manskoshuis, Huis Seder gespeel.
Klaasen, van Koekenaap, het ná die wedstryd gesê dat hy “nie lekker voel nie,” en is kort daarna oorlede.
Dr. Zydèlia Venter, ‘n woordvoerder van Akademia, sê Klaasen het na die wedstryd op die veld gaan lê en gesê hy voel nie lekker nie.
In ‘n poging om hom te help, het sy vriende wat saam gespeel het, die koshuisouer en betrokke personeellede van die universiteit sowel as nooddienste gekontak.
Venter sê die studente het weens die erns van Klaasen se toestand besluit om hom onmiddellik hospitaal toe te neem. Sy toestand het onderweg na die hospitaal verswak, waarna die groep ‘n kort entjie van die koshuis af hul die voertuig moes stop om onmiddellik kardiopulmonale resussitasie op hom toe te pas, terwyl hulle op die aankoms van noodmediese dienste gewag het, aldus Venter.
Sy sê die betrokke personeellede van die universiteit het na die toneel gegaan om die studente te ondersteun en die instelling se reaksie te koördineer, waarna noodmediese personeel Klaasen se mediese sorg oorgeneem het.
Klaasen is later op die toneel dood verklaar.
Konst. Ndakhe Gwala het by navraag aan Paarl Post gesê die voorval het omstreeks 18:25 plaasgevind.
Venter sê Akademia het na die voorval berading en trauma-ondersteuning aan die betrokke studente en personeel beskikbaar gestel. ‘n Gedenkdiens word ook ter ere van Klaasen beplan.
Die universiteit het ook sy innige meegevoel aan Klaasen se familie, vriende en medestudente betuig.
Die AGS gemeente in Koekenaap het in ‘n plasing op hul Facebook blad gesê “een van Koekenaap se eie kinders het skielik gesterf onder die skaduwee van die Paarl berge. Ons as gemeente dink in die hartseer en emosionele pynlike tyd aan sy hele familie wie se harte stukkend is.”
In die plasing het die gemeente ook hul innige meegevoel en simpatie aan almal wat vir Klaasen geken het, betuig.
Die AGS het Klaasen as ‘n baie goed gemanierde en respekvolle seun wat sy liefde vir die Here uitgeleef het beskryf. Paarl Post het meer as een keer na Klaasen se familie uitgereik. Die famile sê hulle is nog nie gereed om met die media te praat nie.
Gwala het intussen bevestig ‘n geregtelike doodsondersoek word gedoen.


