‘n Man wat sy lewe aan rugby, diens en sy gemeenskap gewy het, is verlede Dinsdag (21 Julie) onverwags oorlede en laat ‘n groot leemte in die plaaslike sportgemeenskap.
William “Willie” Jacobs, wat oor dekades heen as speler, administrateur, skeidsregter en rugbyorganiseerder diep spore getrap het, sal onthou word vir sy onwrikbare toewyding aan Riverstones-rugbyklub en die ontwikkeling van rugby in die Paarl.
Groot passie vir rugby
Jacobs (78) het oor dekades heen ‘n onuitwisbare indruk in plaaslike rugbykringe gelaat deur sy diens aan Riverstones- rugbyklub, Paarl-unie en Wes-Kaapse rugby. Sy afsterwe laat ‘n groot leemte by die talle mense wie se lewe hy deur sy passie vir sport, leierskap en diensbaarheid geraak het.
Riverstones-rugbyklub het hom op hul Facebook-blad beskryf as “‘n ware dienaar van Riverstones RFC, wat met passie, integriteit en onwrikbare toewyding gelei het. As speler, kaptein en langdienende sekretaris het hy ‘n onmeetbare bydrae tot ons klub gelewer en ‘n nalatenskap wat nooit vergeet sal word nie.”
Volgens sy jonger broer, Alec Jacobs, het Willie se liefde vir rugby reeds op skool begin.
“Willie, soos ons hom almal geken het, is op 7 Februarie 1948 in Pniël gebore, drie jaar ná die oorlog. Die familie trek kort ná sy geboorte na Tulbagh en in 1954 na die Paarl. Sy liefde vir rugby het reeds as skoolseun by die Hoёrskool Noorder Paarl begin.”
Hy het gedurende sy skooljare by Riverstones-rugbyklub aangesluit, waar hy as flank en nommer agt uitgedraf het. Daarna het hy ook vir Paarl-unie gespeel en, volgens Alec, het hy by albei spanne baie vining van derde span na eerste span gevorder.
Hoewel sy speeldae later tot ‘n einde gekom het, het sy betrokkenheid by rugby net verder gegroei.
“Hy het steeds ‘n groot bydrae tot rugby gelewer. Hy het as sekretaris van Riverstones-rugbyklub en Paarl-unie gedien. By WP-rugby was hy wedstrydsekretaris en hy het ook as wedstrydsekretaris vir die Cravenweek opgetree. Hy was ook skydsregter vir rugby en het sodoende sy passie vir die sport op verskeie vlakke uitgeleef.”
Alec het bygevoeg dat sy broer ná sy rugbyloopbaan ook ‘n groot bydrae tot gholf gelewer het.
“Ná sy rugbyloopbaan het hy ‘n nuwe passie vir gholf ontwikkel. Hy was voorsitter sowel as sekretaris van die Wellington-gholfklub, waar hy met dieselfde toewyding en diensbaarheid betrokke gebly het. Willie sal onthou word as iemand wat nie net ‘n passie vir sport gehad het nie, maar wat deur sy leierskap, toewyding en diens ‘n blywende bydrae tot rugby en golf gemaak het.”
Jacobs laat goeie lesse en waardes agter
Sy dogter, Adelaide Moolow, het gesê haar pa het sy kinders belangrike waardes geleer wat hulle altyd sal bybly.
“Ons pa was ‘n baie gedissiplineerde en reguit mens en het gestaan vir wat reg en verkeerd is. En dit is hoe hy ons geleer het. Hy het ook vir ons gesê jy sal nooit jou potensiaal bereik as jy nie moeite doen nie. Hy was altyd beskikbaar om te luister en raad te gee.”
Volgens Moolow was haar pa se afsterwe heeltemal onverwags.
“Hy was die oggend saam met my ma TC Newman-daghospitaal toe sodat sy haar nuwe datum kan kry by die apteek. Haar afspraak was vir 09:00 en ek het hulle die oggend geneem. Ek het net by die huis gestop toe my ma my skakel in ‘n toestand en sê my pa het inmekaar gesak. Ek en my man, Melvin, ons na die hospitaal gehaas. Hulle (mediese personeel) was besig met hom en ons kon hom nie sien nie. Ná 30 minute het die dokter vir ons kom sê dat my pa dit nie gemaak het nie.”
Sy beskryf die nuus as ‘n geweldige skok.
“Dit was ‘n groot skok. Ons het nog die oggend normaalweg gesels. Oor die digte mis, oor my suster se motor. Hy het nog vir my gesê by die kliniek ‘nee ry in, hulle sal jou toelaat’. Toe ek hulle aflaai was hy baie besorgd oor my ma, want sy is ook nie gesond nie.”
Oor die oorsaak van sy dood het sy gesê: “Soos ek verstaan is dit ‘n natuurlike dood. Sy hart het ingegee.”
Jacobs word oorleef deur sy vrou, Freda Jacobs, twee broers, twee susters, twee dogters, twee seuns en sewe kleinkinders.
Die begrafnis sal op Saterdag 1 Augustus plaasvind by die Holy Trinity Kerk. Besigtiging is van 08:00 tot 09:00 met die kerkdiens wat direk daarna sal plaasvind.




