Matrikulant van die Jaar | Laaste kans vir topmatrikulante om in te skryf

Megan Johnson was die onderhoofmeisie van die Hoërskool Menlopark in Pretoria.
Megan Johnson was die onderhoofmeisie van die Hoërskool Menlopark in Pretoria. FOTO: Charl Devenish

Matrikulant van die Jaar | Laaste kans vir topmatrikulante om in te skryf

Megan Johnson was die onderhoofmeisie van die Hoërskool Menlopark in Pretoria.
Megan Johnson was die onderhoofmeisie van die Hoërskool Menlopark in Pretoria. FOTO: Charl Devenish

BLOEMFONTEIN – Matriekleerlinge van oor Suid-Afrika heen wat op leierskap-, akademiese, kultuur- en sportgebied uitblink en beplan om volgende jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te studeer, het net tot Vrydag 31 Julie tyd om hulle vir die UV en Novus Media se Matrikulant van die Jaar-kompetisie in te skryf.

Die 25 topdeelnemers staan die kans om beurse, geldpryse en geskenke van sowat R500 000 te wen. Die pryse word geborg deur UV Studentewerwingsdienste, die Kovsie-Alumnitrust, Forvis Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk.

Leerlinge kan hulself inskryf of deur hul skole benoem word. Ná die keuringsproses word 25 semifinaliste aangewys, waarna 14 finaliste van 5 tot 7 Oktober aan die eindronde in Bloemfontein deelneem.

LEES OOK: Uitblinker-matrikulant wen toe weer, dié keer met universiteit-studie

Vir drie eerstejaarstudente aan die UV was die kompetisie veel meer as net ‘n geleentheid om pryse te wen. Hulle sê dit het hul selfvertroue versterk, waardevolle vriendskappe laat ontstaan en die oorgang na universiteit vergemaklik.

Matrikulant van die Jaar 2026

‘Jy het reeds die harde werk gedoen’

Megan Johnson, wat vanjaar medies studeer, sê die kompetisie het haar geleer om in haarself te glo.

“Die kompetisie het my geleer om selfvertroue te hê en getrou aan myself te bly. Ná die kompetisie voel ek baie meer selfversekerd tydens onderhoude en wanneer ek moeilike vrae sonder voorbereiding moet beantwoord.”

Volgens haar het die vriendskappe wat tydens die eindronde ontstaan het, haar eerste dae op kampus baie makliker gemaak.

“Ek het reeds mense gehad by wie ek kon aansluit. Drie van die meisies wat ek daar ontmoet het, is vandag my beste vriendinne.”

LEES OOK: Matrikulant van die jaar | Jong leiers se outentieke stem gehoor

Haar raad aan vanjaar se deelnemers is om die ervaring te geniet.

“Jy het reeds die harde werk gedoen om te kwalifiseer. Gryp nou die geleentheid aan om nuwe mense te ontmoet en blywende herinneringe te skep.”

Samantha Mynhardt was ’n prefek aan die Hoërskool Trio in Kroonstad.
Samantha Mynhardt was ’n prefek aan die Hoërskool Trio in Kroonstad. FOTO: Charl Devenish

‘Nie net ‘n mededinging, maar ‘n geleentheid’

Samantha Mynhardt, ook ‘n eerstejaar- mediese student, sê die kompetisie het haar gehelp om haar eie vermoëns raak te sien.

“Veral tydens die onderhoude het ek geleer om myself te vertrou, vinnig op my voete te dink en nie bang te wees om my stem te laat hoor nie. Ek het besef ek kan trots wees op wie ek is.”

LEES OOK: Matriculant of the Year | Competition cultivates leadership and opportunities

Sy sê dit was ‘n groot voordeel om reeds mense op kampus te ken voordat die akademiese jaar begin het.

“Moenie die kompetisie as net ‘n mededinging sien nie, maar as ‘n geleentheid om mense te ontmoet saam met wie jy die volgende paar jaar gaan studeer.”

Michelle Jacobs was ’n lid van die Hoërskool Labori (stet) in die Paarl se verteenwoordigende leerlingraad.
Michelle Jacobs was ’n lid van die Hoërskool Labori (stet) in die Paarl se verteenwoordigende leerlingraad. FOTO: Charl Devenish

‘Waag dit om in te skryf’

Michelle Jacobs, wat ‘n BSc-graad in Biologiese Wetenskappe volg, sê sy het tydens die kompetisie besef sy behoort tussen ander uitblinkers.

“Die ervaring het my selfvertroue geweldig versterk en my uitgedaag op maniere wat ek nooit self sou aangepak het nie.”

LEES OOK: Matriculant of the Year | Novus Media’s involvement a vote of confidence in SA youth

Volgens haar het die mense wat sy tydens die kompetisie ontmoet het, steeds ‘n belangrike rol in haar universiteitslewe.

“Moet nooit aan jouself twyfel nie. Waag dit om in te skryf. Wat vir jou bestem is, sal sy pad na jou toe vind.”

Om in te skryf, skandeer die QR-kode of klik hier om die inskryfvorm af te laai en te voltooi. Stuur dit teen 31 Julie aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

Matriculant of the Year 2026 QR code to get entry form.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article