Matrikulant van die Jaar | Dissipline en doelwitte onderskei topkandidate

John Pentz van Pick n Pay Preller Walk saam met Kiara Subramanian (links) en Laura Andrade de Ponte.
John Pentz van Pick n Pay Preller Walk saam met Kiara Subramanian (links) en Laura Andrade de Ponte. FOTO: Charl Devenish

Matrikulant van die Jaar | Dissipline en doelwitte onderskei topkandidate

John Pentz van Pick n Pay Preller Walk saam met Kiara Subramanian (links) en Laura Andrade de Ponte.
John Pentz van Pick n Pay Preller Walk saam met Kiara Subramanian (links) en Laura Andrade de Ponte. FOTO: Charl Devenish

BLOEMFONTEIN Pick n Pay Preller Walk is al langer as ’n dekade nou betrokke by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie.

Volgens John Pentz van dié winkel in Bloemfontein weerspieël hul betrokkenheid ’n kernwaarde wat deur die stigter, Raymond Ackerman, gevestig is: om terug te ploeg in die gemeenskappe wat die onderneming ondersteun.

“Ons voel bevoorreg om deel te wees van hierdie gesogte geleentheid waar ondernemings ’n betekenisvolle bydrae kan lewer tot die lewe van ons jeug – en eindelik ook tot die toekoms van ons land.”

‘Dit kan van Suid-Afrika ‘n beter plek maak’

Ongeag hoe jy sukses definieer, verg dit toewyding, dissipline en ’n bereidwilligheid om te groei en te verander.

“Wat hierdie kompetisie so belangrik maak, is dat ’n groep van Suid-Afrika se toekomstige leiers die geleentheid kry om met mekaar om te gaan en waardevolle vaardighede te ontwikkel. Met die uitdagings waarmee ons land te kampe het, kan die samekoms van ons beste kandidate help om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.”

LEES OOK: Matrikulant van die jaar | Jong leiers se outentieke stem gehoor

Pentz meen dissipline en doelgerigtheid is die eienskappe wat toppresteerders in ’n kompetisie soos hierdie onderskei.

“Topkandidate – trouens, enigiemand met dissipline en ’n doel om die beste te wees wat jy kan wees – sal slaag op die lewensreis. Ons volg almal verskillende paaie, en passie vir dit waarvoor jy geroep is, maak ’n groot verskil in die lewe.”

‘Wonderlike, vriendelike, doelgerigte’ mense ontmoet

Verlede jaar se wenner, Kiara Subramanian, sê sy sal altyd dankbaar wees dat sy die kompetisie gewen het, “nie net oor die titel nie, maar oor die mense wat dit in my lewe gebring het”.

“Dit het my die geleentheid gegee om wonderlike, vriendelike en doelgerigte mense te ontmoet, van wie baie nou saam met my die pad stap om medies te studeer.

“Wat as ’n kompetisie begin het, het gou iets veel meer betekenisvol geword: vriendskappe, ondersteuning en ’n gedeelde besef dat ons almal na iets groter as onsself streef,” sê die voormalige leerling van Eunice High School in Bloemfontein.

LEES OOK: Triumph for Eunice during 150th birthday

Die kompetisie het Subramanian, nou ’n mediese student in haar eerste jaar, die belangrikheid van verbondenheid en aanmoediging geleer. Dit het haar gewys hoe kragtig dit is om omring te wees deur mense wat jou ondersteun, aanmoedig en inspireer.

Nog ’n 2025-finalis, Laura Andrade de Ponte, wat vanjaar mediese fisika studeer, het ook in die eindronde in Bloemfontein hegte vriendskappe gesmee.

“Hierdie vriendskappe het vir my groot steun gebied toe ek met universiteit begin het. Die bande wat ek met die chaperones (die vorige jaar se finaliste) opgebou het, het my ook gehelp om baie vinniger by die universiteitslewe aan te pas, omdat hulle uit hul ervaring vir my persoonlike raad kon gee.”

LEES OOK: Matriculant of the Year | Young leaders’ authentic voices heard

Andrade de Ponte, wat aan die High School for Girls Potchefstroom gematrikuleer het, raai vanjaar se finaliste aan om selfvertroue te hê en in hul vermoëns te glo, al voel dit soms intimiderend.

“Ondersteun mekaar deur die hele kompetisie en verseker dat julle die proses geniet, want dit is waar die beste vriendskappe gevorm word.”

Matrikulant van die Jaar

Só skryf jy in

Matriekleerders van oor Suid-Afrika heen wat uitblink op akademiese, kultuur- en sportgebied en beplan om volgende jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te studeer kan hulle inskryf.

Die 25 topdeelnemers staan die kans om beurse, geldpryse en geskenke ter waarde van sowat R500 000 te wen. Die pryse word geborg deur UV Studentewerwingsdienste, die Kovsie-Alumnitrust, Forvis Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk.

LEES OOK: Matriculant of the Year | Novus Media’s involvement a vote of confidence in SA youth

Leerlinge kan hulself inskryf of deur hul skool benoem word. Altesaam 25 semifinaliste sal aangewys word, waarna 14 finaliste van 5 tot 7 Oktober aan die eindronde in Bloemfontein sal deelneem.

Skandeer die QR-kode of klik hier om die inskryfvorm af te laai en te voltooi. Stuur dit teen 31 Julie aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

Matriculant of the Year 2026 QR code to get entry form.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article