BLOEMFONTEIN – “Inisiatiewe soos die Matrikulant van die Jaar-kompetisie bevestig vir jong mense dat húl stem waarde het.”
Só sê Leoni Wessels, verhoudingsbestuurder vir Absa Premium Besigheidsbank, oor die motivering vir die bank se betrokkenheid by die kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media. Die eerste inskrywings is reeds ontvang.
“Wanneer jong mense die geleentheid kry om hulself uit te druk en erkenning te ontvang, bou dit selfvertroue, leierskap en identiteit. In ’n land met uiteenlopende uitdagings is hierdie kompetisie ‘n bevestiging vir jong mense dat hul agtergrond of omstandighede nie hul toekoms definieer nie.”
‘Dit het my uit my gemaksone gedwing’
Twee van verlede jaar se finaliste, Emile Dawson en Jané de Villiers, albei mediese studente, stem saam dat hul deelname aan die uitronde hul sefvertroue versterk het.
“Om deel te neem was ’n groot tree vorentoe om my selfvertroue te bou. Dit het my uit my gemaksone gedwing. Ek het besef om verhoogvrees te oorkom, moet jy net opstaan en begin praat,” sê Dawson, ’n oudleerder van die Hoërskool William Pescod in Kimberley.
ALSO READ: Matriculant of the Year | Competition builds self-awareness, boosts confidence
Haar deelname het vir De Villiers, ’n oudleerder van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, die geleentheid gebied om ’n nuwe en beter weergawe van haarself te ontdek.
“Dit het my buite die grense van my gemaksone geneem en … my selfvertroue ’n enorme hupstoot gegee.”
Betekenisvolle reis, onbeperkte potensiaal
Wessels sê die bank se betrokkenheid by die kompetisie weerspieël sy verbintenis om ’n aktiewe krag vir groei en vooruitgang in Suid-Afrika en Afrika te wees.
“Deur jong mense te ondersteun, help ons om hul stories sigbaar te maak en geleenthede te skep waar hulle hul potensiaal kan ontwikkel. Dit strook met ons doel om ‘n waardevolle en tasbare bydrae te lewer om volhoubare, vooruitstrewende gemeenskappe te bou.”
Die bank hoop sy borgskap laat elke finalis besef dat hul reis betekenisvol is en hul potensiaal onbeperk is.
“Deur hierdie platform wil ons help om deure oop te maak, hul unieke stories te versterk en hulle te inspireer om ‘n impak te maak. Ons wil hê hulle moet wegstap met die oortuiging dat hul storie nog net begin het – en dat dit saak maak.”
ALSO READ: Matriculant of the Year | Competition cultivates leadership and opportunities
Wessels, ook een van die beoordelaars van die kompetisie, sê topkandidate verstaan iets baie besonders: “Hulle probeer nie iemand anders wees nie, hulle is outentiek – hulle omarm hul eie storie!”
Dawson beklemtoon ook deelnemers wat die eindronde haal, moet dit geniet en net hulself wees.
“Gryp die geleentheid aan en gebruik dit om jouself beter te leer ken, jouself uit te daag en goeie vriendskappe te vorm. Gaan groot en geniet die lekker bederf!” sê De Villiers.
Albei studente het ook verwys na die vriendskappe wat gevorm is. Sodoende het hulle nie so vreemd gevoel toe hulle die begin van die jaar op kampus aanmeld nie.
ALSO READ: Matriculant of the Year | Enter to gain the opportunity of a lifetime

Skryf jou só in
Matrikulante van oor die land heen wat leiers en presteerders in akademie, kultuur en sport is, en wat beoog om volgende jaar aan die UV te studeer, kan hulle inskryf.
Beurse en prysgeld ter waarde van sowat R500 000 is op die spel vir die 25 topdeelnemers, danksy die borge UV Studentewerwingsdienste, die Kovsie-Alumnitrust, Forvis Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk.
Leerlinge kan hulself inskryf of deur hul skool benoem word, met vorms wat deur die skoolhoof onderteken en van die amptelike skoolstempel voorsien is. Altesaam 25 semifinaliste sal gekies word, waaruit 14 finaliste sal deurdring na die eindronde van 5 tot 7 Oktober in Bloemfontein.
Die wenner en finaliste ontvang prysgeld, beurse en geskenke, terwyl semifinaliste ook pryse en beurse ontvang.
Inskrywing sluit op 31 Julie.
Skandeer die QR-kode of klik hier laai die inskryfvorm af, vul in en stuur terug na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za. Sy kan ook gekontak word vir meer inligting.






You must be logged in to post a comment.