Uitblinker-matrikulant wen toe weer, dié keer met universiteit-studie

By Josh Horak en Chrisna Roelofse (regs), staan Carla Fourie, ’n vriendin en klasmaat.
By Josh Horak en Chrisna Roelofse (regs), staan Carla Fourie, ’n vriendin en klasmaat. FOTO: Verskaf

Josh Horak het hom in 2022 vir die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Matrikulant van die Jaar-kompetisie ingeskryf op voorwaarde dat hy nie wen nie. En toe wen hy!

Vanjaar het hy weer gewen. Op sy gradeplegtigheid verlede week is dié BRek-student as die beste student in ’n driejaar-BA-graadkursus in die Fakulteit vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangewys. Hy was ook elke jaar, oor dié drie jaar, die topstudent in sy klas.

Horak was die eerste finalis wat sy skool, die St Andrews School in Bloemfontein, opgelewer het. Hy het met die louere weggestap nadat ses beoordelaars in die finale beoordeling onderhoude met hom en nog 13 finaliste gevoer het. Ná die kompetisie het hy gesê hy het geen verwagting gehad nie en sou tevrede wees met die 14de plek.

Hy het gesê die nuwe vriendskappe wat gevorm is tydens die eindronde in Bloemfontein, het vir hom uitgestaan. Een van hierdie nuwe vriende en ’n medestudent is Chrisna Roelofse, wat saam met hom haar BRek-graad (cum laude) verwerf het. Sy het aan die Hoër Landbouskool Landboudal in Jacobsdal gematrikuleer.

Horak en Roelofse pak vanjaar hul honneurs-graad in rekeningkunde aan.

LEES OOK: Beste matrikulant in VS verklap geheim vir sukses

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article