Die deure van die Wes-Kaapse ombudsman kantoor se deure is amptelik oop. FOTO: Danie Hefers
Die deure van die Wes-Kaapse ombudsman kantoor se deure is amptelik oop. FOTO: Danie Hefers

Polisie se ombudsman het nou kantoor in die Weskus

Die deure van die Wes-Kaapse ombudsman kantoor se deure is amptelik oop. FOTO: Danie Hefers
Die deure van die Wes-Kaapse ombudsman kantoor se deure is amptelik oop. FOTO: Danie Hefers

‘n Satellietkantoor van die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman is Dinsdag 29 Julie amptelik in Vredenburg geopen. Die kantoor is deel van die provinsiale Polisie-ombudsman se landelike uitbreidingsinisiatief en is in samewerking met die Saldanhabaai Munisipaliteit (SBM) gevestig.

Die openingsgeleentheid by die Ou Stasie-gebou in Hoofstraat is bygewoon deur onder meer generaal-majoor Oswald Reddy, die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman, rdl. Olwene Daniels, die SBM se Speaker, brigadier Zukiswa Bavuma, distrikskommissaris van die polisie, Phumzile Mbaliswana, direkteur van Korporatiewe- en Openbare Veiligheidsdienste by die SBM, verteenwoordigers van die Departement van Korrektiewe Dienste, plaaslike wetstoepassings- en verkeersdienste, polisie-stasiebevelvoerders, asook verteenwoordigers van Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), Gemeenskapsveiligheidsforums en buurtwagte.

Die nuwe satellietkantoor in Vredenburg sal vyf munisipaliteite in die Weskus Distriksmunisipaliteit se gebied bedien.

Die satellietkantoor van die Wes-Kaapse polisie-ombudsman. FOTO'S: Danie Hefers
Die satellietkantoor van die Wes-Kaapse polisie-ombudsman. FOTO’S: Danie Hefers

Die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman is ‘n onafhanklike instelling wat onder meer klagtes van die publiek oor polisie-ondoeltreffendheid, magsmisbruik of ‘n verbreking van verhoudings tussen die gemeenskap en die polisie en metro-polisie in die provinsie ondersoek.

Volgens die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman, generaal-majoor Oswald Reddy, het hy ‘n eenvoudige, maar belangrike visie gehad toe hy as Ombudsman aangestel is.

“Ek was daarvan oortuig dat die dienste van die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman nie slegs beskikbaar moet wees vir mense wat naby Kaapstad woon nie. Geregtigheid behoort nooit van geografie afhanklik te wees nie en toegang tot polisietoesig behoort nie bepaal te word deur hoe ver iemand van ons hoofkantoor af woon nie.”

Verskeie rolspelers het die geleentheid bygewoon.
Verskeie rolspelers het die geleentheid bygewoon.

Reddy het gesê elke inwoner van die Wes-Kaap verdien dieselfde geleentheid om gehoor te word, ‘n klagte in te dien en hulp te ontvang, ongeag of hulle in die stad of in die mees landelike gemeenskappe woon.

“Hierdie kantoor is die eerste stap om daardie visie ‘n werklikheid te maak. Hierdie satellietkantoor is die eerste toegewyde kantoor van die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman wat gestig is om ‘n hele distrik buite Kaapstad te bedien.

“Vir die mense van die Weskus beteken dit dat hulle nie meer lang afstande hoef te reis om toegang tot ons dienste te kry nie.

“Ek wil my opregte waardering uitspreek teenoor die Saldanhabaai Munisipaliteit omdat hulle hierdie visie van die begin af ondersteun het. Julle bereidwilligheid om ruimte vir hierdie kantoor beskikbaar te stel, toon wat bereik kan word wanneer plaaslike regering en provinsiale instellings saamwerk in die belang van die gemeenskappe wat ons dien.”

Die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman beoog om in Augustus vanjaar 20 gemeenskapsontwikkelingswerkers van regoor die Weskusdistrik op te lei.

Dié amptenare sal betroubare lede van hul gemeenskappe wees en inwoners help om toegang tot regeringsdienste te verkry.

Die nuwe satellietkantoor in Vredenburg sal vanaf September vanjaar gedurende vasgestelde tye diens lewer. Die tye sal aan gemeenskappe regoor die distrik gekommunikeer word. Gedurende dié tye sal amptenare konsultasies hou, klagtes ontvang en leiding en advies direk aan lede van die publiek verskaf.

Volgens Reddy is die Ombudsman se visie om verhoudings tussen gemeenskappe en die polisie te versterk voordat meningsverskille tot konflik ontwikkel.

“Sterk gemeenskappe word nie net deur doeltreffende polisiëring gebou nie, maar ook deur sterk verhoudings. So trots as wat ek op hierdie prestasie is, sien ek dit nie as die eindbestemming nie. Ons langtermynstrewe bly die vestiging van ten volle funksionele streekkantore regoor die Wes-Kaap.”

Die nuwe satellietkantoor is deur die distrikskommissaris, brigadier Bavuma, verwelkom.

“Die opening van die nuwe satellietkantoor hier in Vredenburg toon aan gemeenskappe dat hulle belangrik is in ons stryd teen misdaad en swak dienslewering.”

Volgens Mbaliswana van die SBM is dit belangrik dat plaaslike inwoners nie meer Kaapstad toe hoef te reis met hul klagtes oor die polisie nie.

“Die Ombudsman se satellietkantoor bring nou die dienste na ons mense. Dit is ‘n visie wat werklikheid geword het. Die SBM beskik oor die nodige infrastruktuur, soos geboue, wat vennootskappe soos dié met die polisie moontlik maak.”

Die publiek kan vandag en môre (Vrydag 31 Augustus) vanaf 09:00 tot 13:00 die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman kantoor in Vredenburg besoek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 July 2026
    Weslander E-Edition – 30 July 2026

Gift this article