Geen mens verdien om op só ‘n wrede en onmenslike wyse sy lewe te verloor nie. Tog is dit die werklikheid waarmee die familie van Edith Smith (37), ‘n jong ma van Paarl-Oos, nou moet saamleef nadat sy Sondagoggend (26 Julie) op die hoek van Cedarlaan en Kareelaan in die New Orleans-woonbuurt deur vyf honde doodgebyt is.
Toe Paarl Post Sondagmiddag Edith se ouerhuis besoek het, was haar ouers nog geskok en het hulle skaars tot verhaal gekom ná hul dogter se traumatiese dood.
Haar pa, Jerimey Smith, sê die nuus sal hom vir altyd bybly.
“Om daai tyd van die oggend op dié manier wakker gemaak te word, is iets wat ek nie kan beskryf nie. Die gesig wat ek by die hospitaal gesien het, is iets wat ek nie uit my kop kan kry nie.”
Hy beskryf sy dogter bloot as “‘n mense-mens”.
Edith se ma, Mertall Smith, het nie juis baie gepraat nie, maar het in ‘n stadium ontroosbaar begin huil. Die familie sê hulle wil net hê geregtigheid moet vir Edith geskied.
Wreede aanval deur honde
Volgens ‘n ingeligte bron was Edith en haar kêrel op pad terug van ‘n nabygeleë winkel waarheen hulle gestap het toe die honde haar aangeval het.
“Dit is nie die eerste keer dat daardie honde by daardie perseel iemand aanval nie. Die munisipaliteit se wetstoepassers sal iets daadwerklik moet doen voor nog iemand seerkry. Dit is ook onmoontlik vir daai honde om net so by daardie hek uit te kom.”
Volgens die bron woon Edith se kêrel nie te ver van waar sy aangeval is nie.
“Toe hulle verby die erf stap waar die honde woon, was daar een hond in die jaart wat te kere gegaan het. Die kêrel sê toe vir haar hierdie honde is ‘n probleem. Toe hulle twee terugkom [van die winkel], roep iemand hom en hy staan en gesels met die persoon en Edith stap toe nou aan. En die volgende oomblik toe is dit net ‘n geskree en ‘n gegil.
“Toe het die vyf honde, wat almal op een erf woon, vir Edith getakel. Sy het nie eens ‘n draad klere aangehad soos die honde met haar aangegaan het nie.”
Die bron sê die eienaar van die honde het ‘n kombers oor die heining aangegee waarna Smith se kêrel haar met sy bakkie hospitaal toe gejaag het.
“Met haar aankoms by die hospitaal was dit reeds te laat. Sy het gesterf.”
Volgens die bron was die honde van verskillende rasse, waaronder boerboele en Duitse herdershonde.
Nóg ‘n slagoffer van dié honde
Die tragedie het verdere gewig gekry toe ‘n vrou wat sowat ‘n maand gelede na bewering deur dieselfde honde aangeval is, maar die aanval oorleef het, aan Paarl Post gewys het waar sy aan haar nek en gesig gebyt is. Sy het steeds steke in haar gesig.
‘n Vriendin wat tydens Smith se aanval op die toneel was, het vertel hoe sy stuk-stuk Smith se klere en skoene opgetel het nadat die honde dit van haar liggaam afgeskeur het. Daar is ook verdere kommer uitgespreek oor die veiligheid van kleuters omdat ‘n kleuterskool geleë is reg oorkant waar die tragedie afgespeel het.
Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, sê Paarl-Oos-polisie ondersoek die voorval.
“Die polisie in Paarl-Oos het ‘n saak van strafbare manslag geregistreer na die dood van ‘n 37-jarige vrou op 26 Julie omstreeks 04:30 in Cedarlaan, New Orleans. Volgens berigte is sy deur verskeie honde aangeval en gebyt. Sy het verskeie hondebyte aan haar liggaam opgedoen en is na die hospitaal geneem waar sy later aan haar beserings beswyk het. Die ondersoek duur voort.”
Honde van kant gemaak
Lisinda Lubbe, bestuurder van die Paarl Dierebeskermingsvereniging (DBV), sê eienaars moet aanspreeklik gehou word vir die diere in hul besit.
“Eienaars moet definitief aanspreeklik gehou word vir hulle diere.”
Lubbe sê dit bly die eienaar se verantwoordelikheid om te sorg dat honde veilig binne hul erf gehou word en wys daarop dat die munisipale verordening slegs twee honde per erf toelaat.
Saul Jacobs, Drakenstein-munisipaliteit se hoof van munisipale verordeningsafdwinging en sekuriteit, sê die munisipaliteit is op Maandag (27 Julie) deur die Paarl-Oos polisie oor die voorval ingelig.
Volgens Jacobs het die eienaar van die eiendom sy vier honde, hoewel inwoners in die omgewing aandring dat dit vyf honde is, vrywillig aan munisipale amptenare oorhandig.
“Ingevolge die Drakenstein-munisipaliteit se dierebeheerverordening, kan die munisipaliteit las dat ‘n dier wat as gevaarlik of aggressief beskou word, menslik van kant gemaak word.”
Lubbe het in tussen ook bevestig dat vier honde aan DBV Paarl oorhandig is en dat hulle Woensdagoggend (29 Julie) “genadedood toegedien is”.
“Al vier die honde is German Shepherd kruising (Duitse herdershonde) en dit was drie mannetjies en een wyfie.”
Lubbe het egter geen melding gemaak van ‘n boerboel nie.
Jacobs het verder bevestig dat die munisipaliteit geen rekord het van enige vorige klagtes oor die honde nie en dat hulle die polisie se strafregtelike ondersoek ondersteun.
Buiten haar ouers en ‘n broer laat Edith ook twee kinders – ‘n dogter en ‘n seun agter.





