Toe Elderico Louw (32) Vrydagmiddag (31 Julie) vir sy ma Theresa Louw (53) “nog ‘n soentjie” vra, het sy nie geweet dis die heel laaste keer dat sy haar seun lewend sou sien nie.
Dié pa van twee is die aand in ‘n ongeluk oorlede.
Volgens die polisie het die voorval omstreeks 22:40 op die hoek van Bo-Dalweg en Van der Stelstraat in die Paarl plaasgevind. Kapt. Frederick van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, het by navraag aan Paarl Post gesê berigte dui daarop dat die motor waarin Louw ‘n passasier was teen ‘n minibustaxi gebots het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Fredericks sê die bestuurder van die motor het kopbeserings opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. Daar was geen passasiers in die taxi nie en die bestuurder is ongedeerd.
Louw en sy meisie van ses jaar, Thamian Fortuin (22), het ‘n paar huise van sy ouerhuis af gewoon. Theresa sê haar seun het Vrydagmiddag oudergewoonte by hul familiehuis afgeklim en gevra vir iets om te eet. “Hy het gesê ek moet vir hom twee eiers bak en terwyl hy besig was om te eet het my tweede oudste, sy jonger broer Luciano (29), huis toe gekom en hulle het planne gemaak om by ons huis te kuier,” vertel sy.
Nadat hy klaar geëet het sou Louw net vinnig huis toe gaan en terugkom. “Mammie, gee ‘n laaste soentjie, ek kom nou weer,” het hy gesê, en toe soen hy my en hy is uit by die deur. Luciano het vir hom gewag, maar Rico het nie weer teruggekom nie,” sê die bedroefde ma.
Omstreeks 23:30 het Luciano se vrou, Mickayla Louw, ‘n oproep van haar niggie ontvang waarin sy haar van die ongeluk verwittig het.
Kort daarna het sy die nuus met Theresa gedeel. “Teen daardie tyd het ek nie geweet wat om te verwag nie, die nuus het my soos koue water getref, maar ek het vir God gevra om my kalm te hou, en hy het,” sê sy.
Theresa en haar jongste seun, Quinton (18), het onmiddellik in die rigting van die ongelukstoneel begin loop. Kort daarna het haar niggie se man, Nadeem Johnson, vir hulle ‘n rygeleentheid tot by die toneel gegee.
Toe hulle by die ongelukstoneel kom, was Louw se liggaam alreeds bedek, die familie het toe nog nie geweet hy is dood nie, “maar ek het hom aan sy skoene uitgeken, en hoewel ek in my hart geweet het dis hy wat daar lê, het ek steeds vir Quinton gevra om te gaan kyk, met die hoop dat hy vir my sou sê dis nie Rico wat daar lê nie,” vertel Theresa hartseer.
Toe word haar grootste vrees waar. “Ek het nooit gedink ek sou ‘n kind aan die dood afstaan nie, die pyn is onbeskryflik, ek het nie eers meer trane oor nie, dis leeg van binne. Dis asof ek lewe in ‘n nagmerrie waaruit ek sukkel om wakker te word,” sê sy.
Theresa beskryf Louw as iemand wat elke vertrek kon ophelder, ” ‘n regte grapjas en terggees”, wat veral lief was om vir Quinton te terg. Sy sê hoewel haar moederhart dit soveel anders sou wou hê, weet sy van beter as om die werke van die Here te bevraagteken. “Ek is net dankbaar vir die tyd wat God hom wel vir ons geleen het,” sê sy.
Volgens Theresa was haar seun ook ‘n liefdevolle mens, “hy was baie lief vir my, vir sy kinders, sy pa, sy broers, sy meisie en veral vir sy medemens.”
Fortuin sê “Rico was ‘n mense-mens, altyd gereed om ander te help en hy het nooit nee gesê nie. Hy sou sy laaste gee as dit beteken hy kon iemand anders help.”
Fortuin en Louw het ‘n driejarige seuntjie, een vir wie sy nou nie woorde het oor hoekom die pa wat elke dag daar was, skielik net nie meer is nie. “Dis ‘n seer waaraan ek nooit gewoond sal raak nie, een waaroor ek nooit sal kom nie,” beklemtoon sy.
Fortuin sê sy klou aan die mooi herinnering waarmee Louw haar gelos het, en sal virseker dat hul seun nooit sy pa vergeet nie. Louw se pa, Izak Louw (52), was nie gereed om met die media te praat nie. “Ek gaan huil as ek nou moet praat,” het hy gesê.
Louw laat sy ouers, broers, sy meisie, hul seun, sy dogter uit sy vorige verhouding en Quinton en Luciano se twee kinders agter. Die familie het sy liggaam Dinsdag (4 Augustus) gaan uitken. Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.





