ji
Cyntino Malan (8). Foto: Facebook

Geliefde gr.2-leerder sterf in hospitaal ná ongeluk in Wellington


’n Gesin se lewe het in ’n oogwink onherroeplik verander toe ’n motorongeluk in Wellington die lewe van die agtjarige Cyntino Malan geëis het.

Die gr. 2-leerder van die Laerskool Nieuwe Drift in Noorder-Paarl het sewe dae lank om sy lewe geveg nadat hy ernstige kopbeserings in die botsing opgedoen het, maar het uiteindelik verlede Donderdag (28 Mei) aan sy beserings beswyk.

Die Wellington-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die ongeluk wat op 21 Mei plaasgevind het.

Volgens konst. Ndakhe Gwala, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, is die saak geregistreer nadat die ongeluk tot die dood van die kind gelei het.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie,” het Gwala gesê.

Cyntino was saam met sy ma, Cynthia Malan (31), en sy jonger broer, Altino (4), op pad huis toe in Noorder-Paarl toe die voertuig waarin hulle gereis het, by die kruising van Interpace- en Van der Stelstraat in Wellington se nywerheidsgebied met ’n ander voertuig gebots het.

Volgens Cynthia het sy ná die botsing uit die voertuig geklim om eers na haar kinders om te sien. Dit was toe dat sy opgemerk het dat Cyntino ‘n ernstige kopbesering opgedoen het.

Sy het ook gesien dat Altino uit sy mond bloei. Mediese personeel het haar later meegedeel dat een van sy tande uitgeslaan is en dat ‘n ander tand verskuif het.

‘n Ambulans is na die toneel ontbied, waarna Cynthia en haar twee seuns mediese behandeling ontvang het. Cyntino is in ’n koma na die Rooi Kruis-kinderhospitaal geneem, maar ondanks mediese behandeling het hy sewe dae later aan sy beserings beswyk.

Cynthia is die sekretaresse van Nieuwe Drift Primêre Skool in Noorder-Paarl, waar Cyntino ‘n leerder was.

poko
Cyntino Malan (8) as ‘n jonger seuntjie. Foto: Facebook

Die nuus van sy afsterwe het groot hartseer in die gemeenskap ontlok, veral by die Laerskool Nieuwe Drift waar hy ’n leerder was. In ’n huldeblyk het die skool gesê hy betreur die afsterwe van sy geliefde gr.2-leerder met diepe hartseer.


“Cyntino was ’n soet, liefdevolle seuntjie wat die harte van almal by die Laerskool Nieuwe Drift geraak het. Hy het almal met ’n warm glimlag gegroet en vreugde gebring waar hy ook al gegaan het.”

“Sy sagte geaardheid en vriendelike natuur sal altyd onthou word deur sy onderwysers, klasmaats en almal wat die voorreg gehad het om hom te ken,” het die skool gesê.

Die skool het sy innige meegevoel met die Malan-familie, vriende, klasmaats en almal wat oor die verlies rou, uitgespreek en gesê die gemeenskap hou die familie in hul gedagtes en gebede gedurende hierdie moeilike tyd.

LEES OOK: Motorfietsryer (37) sterf in ongeluk naby Franschhoek

“Rus sag, liewe Cyntino. Jy sal vir altyd deel van die Nieuwe Drift-familie bly,” het die skool gesê.

Volgens Cynthia sal sy haar seun onthou as ‘n lewenslustige kind wat oral waar hy gegaan het vreugde versprei het.

“Hy was ‘n bondel energie wat die atmosfeer van ‘n hele kamer kon verander wanneer hy daar instap,” het sy gesê.

Sy het vertel dat Cyntino ‘n sterk sin vir reg en verkeerd gehad het en nie daarvan gehou het om mense om hom hartseer te sien nie. Hy het dikwels sy bes probeer om ander te troos wanneer hulle ontsteld was.

Cynthia het laggend bygevoeg dat haar seun nie juis ‘n oggendmens was nie.

“Hy het soggens eers bietjie tyd nodig gehad, maar later deur die oggend het hy altyd ontdooi” het sy gesê.

Cyntino se begrafnisdiens word op 13 Junie by die Laerskool Alfons in die Paarl gehou

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article