12-jarige seun van Amstelhof buite gevaar nadat hy raakgery is

‘n 12-jarige seun van die Paarl sterk aan nadat hy Vrydagaand deur ‘n taxi raakgery is. Foto ter illustrasie. Foto: Paarl Post argiewe

12-jarige seun van Amstelhof buite gevaar nadat hy raakgery is

‘n 12-jarige seun van die Paarl sterk aan nadat hy Vrydagaand deur ‘n taxi raakgery is. Foto ter illustrasie. Foto: Paarl Post argiewe

‘n 12-jarige seun van die Amstelhof-woongebied in die Paarl is nou buite gevaar nadat hy Vrydagaand (4 September) deur ‘n taxi raakgery is.

Volgens omstanders het die voorval ongeveer 21:00 in Amstelhoflaan plaasgevind. Ooggetuies sê die seun het onder andere beserings aan sy kop opgedoen.

Thembakazi Mendukana, ‘n polisiewoordvoerder het Maandag (7 September) by navraag aan Paarl Post gesê die polisie het geen rekord van die voorval nie.

Luidens inligting van ‘n betroubare bron wat by voorwaarde van anonimiteit met Paarl Post gepraat het kan die seun glo niks van die voorval onthou nie. Ná die ongeluk is hy na bewering in Tygerberg-hospitaal opgeneem, sy toestand het egter intussen verbeter en hy is na Paarl-hospitaal verplaas waar hy tans aansterk, aldus die bron.

Volgens Muneera Allie, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit is kinders van die kwesbaarste padgebruikers en kan hulle sukkel om verkeerspoed en afstand akkuraat te beoordeel, terwyl bestuurdersgedrag, insluitend spoed en afleiding, die risiko vir voetgangerongelukke verhoog.

Sy sê veilige padgedrag moet reeds van jongs af aangeleer en konsekwent versterk word. Kinders moet geleer word om aangewese kruisings te gebruik, te stop en albei kante toe te kyk, terwyl hulle nie moet aanneem dat ’n bestuurder hulle gesien het nie. Ouers, versorgers en onderwysers moet volgens haar ook deur hul eie gedrag die regte voorbeeld stel.

Dié departement fokus intussen op padveiligheidsopvoeding en bewustheidsprogramme by skole, opleiding vir skolierpatrollies en die Danie Kat-programme vir jonger leerders. Junior Verkeersopleidingsentrums, wat padscenario’s simuleer, word ook by deelnemende skole geïnstalleer. Geteikende wetstoepassingsoperasies rondom skole, asook veiligheid en opvoeding vir skoliervervoerdiensverskaffers, vorm deel van die departement se pogings om kinders veiliger op die paaie te hou.

Allie sê ouers en skole kan verder help deur veilige roetes na en van skole te identifiseer, kinders aan te moedig om voetgangerkruisings en verkeersseine te gebruik en gevaarlike gebiede rondom skole aan die owerhede te rapporteer. Sy doen ook ’n beroep op motoriste om stadiger te ry, waaksaam te wees en veral rondom skole en woongebiede vir kinders op die pad voorsiening te maak. “Padveiligheid is uiteindelik ’n gedeelde verantwoordelikheid,” sê sy.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article