Tydens ‘n week wat die leerlinge en personeel van Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl moet gees vang en gereed maak vir hul jaarlikse derby teen Hoërskool Noorder-Paarl, het geweld buite die skool uitgebreek, toe een van sy leerlinge Dinsdagmiddag (11 Augustus) etlike meters vanaf die skool se ingang, met ‘n panga oor die kop geslaan is.
Beeldmateriaal van die voorval doen die rondtes op sosiale media. In van die foto’s kan gesien word hoe die gewonde seun, ‘n gr.9 leerling verbonde aan die skool, lê terwyl ‘n meisie met wie hy na bewering in ‘n verhouding is, die bloeding met ‘n blou skoolbaadjie probeer stop.
Omstanders sê die voorval het net ná skool, omstreeks 13:00 plaasgevind.
Volgens ooggetuies was die seun na bewering op pad om sy meisie ‘n ent weg huis toe te vergesel, toe vyf jong mans, wat glo ook voorheen daar skool gegaan het, hom nader. Hy is na bewering kort daarna deur twee van hulle met ‘n panga aangeval.
Die voorval het volgens die omstanders voor die hek van die Laerskool Paulus Joubert, in Beukesstraat, plaasgevind.
Die ooggetuies sê die seun het die aanslag oorleef en is met ‘n ambulans na die hospitaal vervoer.
Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het die voorval bevestig.
Volgens Hammond is diegene wat die seun aangeval het na bewering nie leerlinge van enige skool nie. Sy sê die seun het na die voorval mediese behandeling ontvang en is daarna huis toe geneem.
Die distrik se span vir geïntegreerde skoolgesondheid en leerlingondersteuning (ISLES) het die skool vandag (12 Augustus) besoek om psigososiale ondersteuning en berading te bied; die leerling was egter afwesig, sê Hammond.
“Die WKOD sal ondersteuning bied wanneer hy terugkeer,” sê sy.
Thembakazi Mpenduka, ‘n polisiewoordvoerder het Woensdagmiddag (12 Augustus) by navraag aan Paarl Post gesê die polisie in die Paarl het geen rekord van die voorval nie.




