Boniface Kumwenda (49), ‘n Malawiese man het Donderdagmiddag (17 September) ‘n operasie ondergaan nadat hy in Klapmuts beroof en aangeval is. Foto: Verskaf

Malawiese man in hospitaal ná aanval in Klapmuts

Boniface Kumwenda (49), ‘n Malawiese man het Donderdagmiddag (17 September) ‘n operasie ondergaan nadat hy in Klapmuts beroof en aangeval is. Foto: Verskaf

KLAPMUTS – ‘n Malawiese man sterk tans in ‘n hospitaal in Stellenbosch aan nadat hy Dinsdagmiddag (15 September) na bewering deur twee seuns in Klapmuts aangeval is.

Boniface Kumwenda (49) was volgens sy meisie, Neliswa Ntwanami (43), omstreeks 18:00 op pad na haar huis toe twee seuns hom na bewering probeer beroof het.

Volgens Ntwanambi het Kumwenda daarna na haar huis gehardloop.

Sy sê hy is in die bors gesteek en met ‘n panga op sy hande en arms gekap.

Kumwenda was Donderdag (17 September) steeds in die hospitaal en het volgens Ntwanambi teen 15:00 ‘n operasie ondergaan.

Sy sê die voorval het haar bang en onveilig laat voel. Sy beweer een van die seuns, wat by die aanval betrokke was, het die volgende dag in haar straat rondgeloop.

Volgens haar is dit nie die eerste keer dat Kumwenda aangeval is nie. Sy sê hy het tydens ‘n vorige voorval by ‘n winkel verbygeloop toe twee seuns, wat daar gesit het, hom aangeval het.

Ntwanambi sê haar kêrel is tydens dié voorval ook met ‘n panga aangeval en met ‘n mes gesteek.

Luidens gerugte is die een seun na bewering ” ‘n gereelde misdadiger wat elke keer onder die toesig van sy ma vrygelaat word”. Mense beweer hy beroof mense gereeld en maak hulle seer. Die inwoners beskryf hom as ” ‘n onbeskofte kind”. Hulle beklemtoon dat hy gevaarlik is.

Gemeenskap wou seun aanval

Veronica Gelant, die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Klapmuts, het Donderdag aan Paarl Post gesê die voorval het kort nadat dit plaasgevind het, ‘n groot opskudding in Klapmuts veroorsaak toe lede van die gemeenskap probeer het om die seun in boendoe-hof-styl te takel.

Die seun is na veiligheid gebring voordat die gemeenskap hom kon aanval en word by die Klapmuts-polisiekantoor aangehou.

Gelant het intussen haar kommer oor misdaad in Klapmuts uitgespreek.

Volgens haar kom misdaad die afgelope weke toenemend in Klapmuts voor – veral in gebiede soos Kompad.

Sy sê inwoners voel onveilig in hul eie huise en dus moet die oplossing tot hierdie misdade verder as net “gewone” straf strek.

Beroep op owerhede vir langtermynplan

Gelant doen ‘n beroep op die polisie vir ‘n langtermynplan vir jongmense wat rehabilitasie, vaardigheidsontwikkeling en werksgeleenthede insluit.

Sy sê die polisie, ander wetstoepassers en die gemeenskap moet saamkom om misdaad in Klapmuts aan te spreek.

Paarl Post het na die polisie uitgereik, maar geen kommentaar teen die tyd van publikasie ontvang nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article