Nie eens die naweek se reën kon die geesdrif vir digkuns tydens die 15de Tuin van Digters-fees in Wellington blus nie. Die fees, alom bekend as die “Tuiste van Afrikaanse digkuns”, is deur die Breytenbach-sentrum aangebied.
Dit word jaarliks rondom die geboortedag van die gevierde digter en skilder Breyten Breytenbach se verjaarsdag aangebied en gee digters van oor die land heen en wat nuwe bundels gepubliseer het, kans om oor hul werk te praat.
Meer as 20 programitems, insluitend musiekproduksies en twee kunsuitstallings, was deel van die 2026-program. Dit is saamgestel deur die digter en draaiboekskrywer Bibi Slippers met die temas “Menswaardig” en “100% handgemaak”.
Bekendes en pryswenners in die Suid-Afrikaanse letterkunde- en kunsgemeenskap, soos Antjie Krog, Daniel Hugo, Johan Myburg, Tom Dreyer, Danie Marais, Miché van Wyk, Gaireyah Fredericks, Isabelle Niehaus, Toast Coetzer, Erns Grundling, Alwyn Roux, Shane van der Hoven en Veronique Jepthas was by die fees.

Fredericks, ‘n wenner van die Eugene Marais- en UJ-pryse, het saam met haar mede-Mengelmoesdigters Merle Danhouse en Fiona Fertyn van die Paarl, Theresa Carstens van Wellington en Sophia Oliphant van Gouda, ‘n poësiehuldiging vir Diana Ferrus aangebied.
Ferrus is vroeër vanjaar oorlede.
Die Mengelmoesdigters het onder haar leiding in die vroeë 2010’s by die Sentrum ontwikkel.
Menswees gevier
“Vanjaar se fees het menswees op ‘n sigbare wyse gevier – nuwe bundels, huldigings, pryse en paneelgesprekke rondom die poësie. Maar ook die onsigbare – ‘n stille refleksie en introspeksie oor wat ons gedeelde menslike ervaring is,” sê André Terblanché, die bestuurder van die Breytenbach-sentrum.
“Die besonderse is wanneer rondom menswaardigheid vergader word, vervaag die gewone grense van ouderdom, voorkeur en bevoorregting. Die digkuns word ‘n lens wat na binne kyk – na die plek waar menslikheid nie onderskei of afgebaken kan word nie. Miskien is dit wat die digkuns uiteindelik doen. Soos N.P. van Wyk Louw se beiteltjie kap dit aan die harde oppervlak van ons werklikheid, totdat iets van die beeld binne sigbaar word. By Tuin van Digters het daardie beeld vanjaar iets van ons gedeelde menswees geword,” glo hy.
Die fees is geopen deur leerders van Curtus van Kerwel se Eagle Cloud-musiekskool, wat ‘n basis by die Breytenbach-sentrum het.
Toonsettings van gewilde gedigte
Die Paarliet Laurinda Hofmeyr het nuwe toonsettings van gewilde Afrikaanse gedigte na die Vrydagaand-verhoog gebring en is ondersteun deur Schalk Joubert op baskitaar en Kevin Gibson op die dromme.
Hofmeyr was ook deel van die huldigingsprogram vir die digter, akademikus en resensent Joan Hambidge, wat al meer as 40 bundels gepubliseer het. Hofmeyr het twee van Hambidge se gedigte, “Ars Poetica en “Alice Miller Revisted”, spesiaal getoonset.

Prof. Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg het in haar huldigingsrede, gepas op Hambidge se 70ste verjaarsdag, haar as “groter as lewensgroot, onblusbare energie, flink skrywerspen, ruim brein, vlymskerp intellek, uitdagende ondersoeker, berekende resensent, rustelose nomade, meedoënlose skrywer en studieleier” beskryf.
Die wenner van vanjaar se Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutbundel in Engels, die Libies-gebore Sarah Uheida van Stellenbosch, het Saterdagaand haar prys in ontvangs geneem en ontroer met voorlesings uit haar bundel “Not this Tender”.

Leerlinge van al vier hoërskole in Wellington – Bergrivier, Weltevrede, Hugenote en Wellington – het ook kans gekry om hul gedigte aan ‘n waarderende gehoor voor te lees. Dié program is gelei deur Lindsey Bruintjies, ‘n leerkrag van Weltevrede Sekondêr.




You must be logged in to post a comment.