Albert B. Geldenhuys – die siviele ingenieur, mediaman, sakeman, filmmaker, olyfboer, elektroniese biblioteek-skepper (Nuuseum) en nou ook geskiedenis-skrywer – het in die ouderdom 70 die merkwaardige verhaal van sy oupa, Wynand H. Louw, die eerste Afrikaanssprekende argitek wat meer as 150 kerkgeboue in Suider-Afrika ontwerp het, geboekstaaf.
Drie jaar gelede het Geldenhuys ‘n meestersgraad in argi- tektuur by Kovsies verwerf. Die titel van sy tesis is “The Life and Work of Architect Wynand H. Louw (1883-1967) with a Focus on the Design of Ecclesiastical Buildings”. Die tesis, nou ‘n gepubliseerde boek, het gevolg op ‘n reis van langer as vyf jaar deur Albert en sy vrou, Maretha, ook ‘n kultuur-historikus. Hulle het meer as 40 000 km kruis en dwars deur die land afgelê om Oupa Louw se kerkprojekte te besoek.
Die boek is terselfdertyd ‘n beskrywing van al die reise – fisiek, geestelik, akade- mies, aangevul deur meer as 300 foto’s, pensketse en ontwerp-idees van verskeie kerke wat besoek is.
Ook Oupa Wynand se lewensverhaal – met sy komvandaan die Strooidakkerk in die Paarl – word vertel. Sy impak as kerkargitek word teen die agtergrond van die ontwikkeling van kerkargitektuur wêreldwyd beskryf – ook spesifiek die gereformeerde kerkargitektuur aan die Kaap sedert 1652. In die proses verwesenlik Albert sy kinderdroom deur soos Oupa Wynand ‘n meestersgraad in argitektuur te verwerf.
Wie was Wynand H. Louw?
In 1905, kort ná die Anglo-Boereoorlog, gaan studeer Oupa Wynand argitektuur
aan die Architectural Association in Londen, die oudste argitekskool in Brittanje. Hy word beskou as die eerste Afrikaanssprekende argitek met tersiëre opleiding. Louw ontwerp in 1909 as 26-jarige sy eerste kerkgebou, die NGK Port Elizabeth. Oor ‘n halfeeu ontwerp Louw en sy praktyk meer as 120 kerkgeboue. Hy speel ook ‘n leidende rol met die modernistiese ontwerp van kantoorgeboue soos die Waalburg-gebou en die Ou Mutual-gebou in Kaapstad, wat by voltooiing die hoogste kantoorgebou in die Suidelike Halfrond was. Wynand Louw se baanbrekersbydrae word in 1940 erken toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ‘n erepenning aan hom toeken.
In die voorwoord van Albert se boek skryf sy vriend en leraar van die NG Kerk Drieankerbaai, dr. Andries Cilliers, dat hy waarskynlik meer as meeste mense in kerkgeboue kom. “Ek preek Sondae daar, ek aanbid daar, ontmoet mense daar. Meestal aanvaar ek die geboue as vanselfsprekend. Hulle is maar daar . . . , geneig om te koud te wees in die winter en te warm in die somer, ruik na stof en politoer en die week se toestaan. Sommige kerkgeboue preek moeilik, omdat die akoestiek sukkel en die mense te ver van jou sit; ander kerkgeboue maak preek makliker.”
Cilliers sê ongeag sy eie bekendheid met kerke laat Albert se reisverhaal hom met nuwe oë na hierdie besondere geboue te kyk. “Hy neem ons op ‘n reis wat wye draaie deur ons land gooi, sodat ons saam met hom die kerke wat deur sy oupa, Wynand Louw, ontwerp is, kan ontdek. Sy reis deur die land word daardeur ook ‘n reis deur die tyd, ‘n ontdekking van ‘n belangrike hoofstuk uit die geskiedenis van argitektuur in Suid-Afrika . . . Ons reis terug deur twintig eeue se storie van ‘n geloofsgemeenskap wat op uiteenlopende maniere aan hulle geloof gestalte gegee het in die geboue waar hulle aanbid het,” skryf Cilliers.
Cilliers meen die skrywer laat ons ook nadink oor ‘n wesenlike vraag: Wat is ‘n kerkgebou nou eintlik? Die kerk is nie geboue nie, die kerk is mense, mense wat God as Vader aanbid, wat Christus as Here volg, wat soek na die leiding van die Gees. “Al is dit waar, laat hierdie boek ‘n mens dink oor ‘n ander werklikheid: die kerk is mense wat nou al vir by die 2 000 jaar lank geboue oprig, geboue wat in die spreektaal ‘kerke’ genoem word . . . Die skrywer maak die verskil tussen die siening van die kerkgebou as die huis van God (domus Dei) en die kerkgebou as die huis van die kerk (domus ecclesiae). Vanuit sy gereformeerde agtergrond kies hy om aan die kerkgebou te dink as die huis waar die kerk (as Christus se mense) vergader,” skryf Cilliers.

Albert sê wat vir hom vroeg opvallend was, was dat daar ‘n algemene ontwerptema in baie van Oupa Wynand se geboue was, naamlik die simboliese drie ingangsdeure en sewe reghoekige vensters. Ook die lugopening wat lyk soos ‘n roosvenster in die voorgewel van baie van die kerke maak ‘n stelling wat die gebou as ‘n tipiese Louw-gereformeerde kerk definieer. Oupa Louw het in sy loopbaan ‘n deeglike begrip ontwikkel van ‘n moderne 20ste-eeuse Sentraalbouw-kerk vir ‘n Suid-Afrikaanse gereformeerde gemeente.
Geldenhuys sê hy was verstom om te sien dat die Facebook-groep “Kerkgeboue van Suider-Afrika” meer as 38 000 volgelinge het. Geldenhuys sê hy het baie inligting deur middel van sosiale media bekom, wat deur reise opgevolg is. Hy sê nietemin sy reis is nog nie voltooi nie. “Iewers in die wye land, asook buurlande soos Malawi en Zambië, glo ek sal ons nog ontdekkings maak,” meen hy.
Geldenhuys se boek word deur Naledi uitgegee. Stuur e-pos aan Nienke Geldenhuys by Nienke@Naledi.co.za of skakel haar by 078 679 4321 vir nog inligting.






You must be logged in to post a comment.