Voordat Tuberkulose (TB) die mat onder haar voete uitgeruk het en haar lewe tot stilstand gebring het, het Jady-Lee Goedeman (22) haar passie vir netbal met hart en siel uitgeleef.
Die jong ma van die Paarl is Woensdag (12 Augustus) in die vroeë oggendure in Paarl-hospitaal oorlede, nadat sy Dinsdagmiddag (11 Augustus) per ambulans na die hospitaal vervoer is. Goedeman se kêrel en die pa van haar 2-jarige dogter, Keanu Abrahams (29), het die ambulans gebel nadat sy kortasem begin voel het.
Haar ma Jeanette Goedeman (50) het langs haar bed gestaan toe sy haar laaste asem uitblaas. Die bedroefde ma sê ten spyte van haar teenwoordigheid was sy onbewus van haar dogter se sterfte totdat haar vriendin Shirley Antonie (39) wat saam met haar by die hospitaal was vir haar gesê het “Jady-Lee is nie meer met ons nie.”
Jeanette sê die woorde het soos ‘n mes deur haar hart gesteek. “Ek wou dit nie glo nie, ek wou dit nie aanvaar nie. Toe vat ek haar hand en sê ‘Jady-Lee skrik wakker vir mammie. Kom jou kind wag vir jou, kom ons gaan huistoe.’ Toe ek na die derde keer geen reakskie uit haar kry nie, het ek besef dis waar. My kind is regtig weg. Dis toe ek kliphard begin gil, ek kon die trane nie keer nie. Dis die seerste seer wat ek nog ooit gevoel het. Ek het nooit gedink dat ek my oudste dogter aan die dood sou afstaan nie. Dis ‘n pyn wat ek iemand ooit sou toewens nie,” vertel die ma hartseer.
Die siekte het Goedeman die eerste keer in 2021 getref, “maar sy het herstel, TB het gekom en gegaan, maar my kind het elke keer herstel, dis wat dit so moeilik gemaak het om te aanvaar,” sê Jeanette.
Voordat Goedeman gediagnoseer is met TB het sy klubnetbal gespeel. Die siekte het egter haar netballoopbaan gestop lank voordat sy gesterf het. Voor haar diagnose het sy as doel vir Rebels uitgedraf.
“Jady-Lee het regtig haar hart en siel op die baan gelos, elke keer. My kind was lief vir die sport en sy was baie goed daarin,” vertel Goedeman se ma trots.
Jeanette sê haar dogter was ‘n lieflike mens wat oral kon inpas. Nog een van die min jong volwassenes wat geloop het as mense haar stuur en oral gehelp het waar sy kon. Sy sê Goedeman wou altyd seker maak dat sy oukei is. “Sy het altyd vir my gesê ‘mammie as ek eendag ‘n goeie werk kry, gaan ek seker maak mammie het alles wat mammie nodig het,’ maar my kind het nooit lank gewerk nie, want sy het elke keer siek geraak, dan moes sy maar weer die werk los.”
Die bedroefde ma het ‘n beroep op jong mense gedoen om na hulself om te sien. “Mens weet nooit waar jy die kiem kan optel nie. My kind was gesond en nou is sy dood. Ek weet nie waar sy die kiem opgetel het nie, so wees asseblief versigtig en en pas julself mooi op,” beklemtoon sy.
Daar sal Sondag (16 Augustus) ‘n gedenkdiens ter ere van Goedeman by die True Pentecostal Church gehou word. Sy word op 22 Augustus ter ruste gelê.


