Twee negatiewe TB-toetse het aanvanklik vir verligting gesorg, maar agter die aanhoudende hoes van Roslyn Tobias (50) se 19-jarige seun, Huson Moses, het ’n veel groter stryd geskuil – een wat uiteindelik sy lewe sou eis.
Die Paarlse ma het aanvanklik vermoed haar seun het tuberkulose (TB) omdat sy hoes nie wou wyk nie. Toe albei toetse negatief terugkom, het sy egter nie geweet dat kanker die oorsaak van sy verswakkende gesondheid was nie.
Moses is verlede Vrydag (16 Oktober) aan kanker oorlede. Kort voor sy dood het die familie besluit om hom te vertel dat daar niks meer is wat die dokters vir hom kon doen nie. Sy ma se broer Vernon Moses het die nuus met hom gedeel. Volgens Vernon het Moses nie paniekerig geraak of gehuil nie. “Nadat ek hom gesê het, het hy vir my gevra om al sy naasbestaandes te kontak sodat hy hulle kon groet,” vertel Vernon.
Van aanhoudende hoes tot kankerdiagnose
Moses, wat verlede jaar aan Charleston Hill Sekondêre Skool gematrikuleer het, het vanjaar deur YearBeyond by die Laerskool Paarlzicht begin werk. Hy het ’n nege maande lange kontrak gehad, maar kon net sowat twee en ’n half maande daarvan voltooi voordat sy gesondheid hom genoop het om op te hou werk.
Teen einde April, begin Mei, het hy verskriklik begin hoes. Volgens Tobias het die gesin aanvanklik gedink dit is ’n gewone verkoue. Hulle het medikasie gekoop, maar die hoes wou nie ophou nie.
“Toe vra ek vir hom: ‘Jong, is dit nie TB nie?’ Ek sê toe vir hom ons moet kliniek toe gaan sodat hulle hom kan toets,” vertel sy.
Nadat die eerste toets negatief was, is Moses weer getoets. Ook dié uitslag was negatief.
Een aand het hy egter so erg gehoes dat niemand in die huis kon slaap nie. Sy oudste broer, Ronwin Moses, het besluit om hom hospitaal toe te neem. ‘n Vriend van Ronwin het die twee broers na die hospitaal geneem.
Die volgende oggend het Ronwin sy ma gebel en gesê sy moet dadelik kom. Dokters het bevind dat Moses se hart vergroot is en dat daar vog om sy hart is. Hy is toe in die waaksaal opgeneem.
Dokters het later kanker in sy bors gediagnoseer. Hy is daarna na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy chemoterapie ontvang het.
Die hoop dat hy sou herstel
Volgens Tobias het haar seun nooit oor pyn gekla nie. “Dit het gelyk asof hy beter word. Selfs die dokters het vir my gesê die gewas het gekrimp,” vertel die ma hartseer.
’n CT-skandering is vir 17 November beplan om vas te stel hoeveel die gewas gekrimp het. Daarna sou dokters hom opereer om die gewas te verwyder.
Intussen het Moses egter weer gesukkel om asem te haal. Hy het bloed in die Paarl-hospitaal ontvang omdat sy bloedtelling te laag was.
Moses is daarna ontslaan.
Toe sy asemhaling verder verswak, het die gesin ’n ambulans ontbied. Moses het nog drie sakke bloed ontvang, asook antibiotika deur ’n drup, en suurstof.
Hy is Maandag (12 Oktober) weer ontslaan, “maar ek kon sien hy was steeds baie moeg. Sy asemhaling het my baie bekommer, veral toe hy ná ’n nag waarin hy byna aanhoudend regop moes sit, steeds nie beter gelyk het nie. Hy is Woensdag (14 Oktober) weer in die hospitaal opgeneem.
“Ons het hom weer hospitaal toe geneem toe sy toestand nie verbeter het nie en toe het die dokters infeksie in sy long gevind,” vertel sy erg ontsteld.
Hy het in die hospitaal gebly totdat hy gesterf het.
‘Mammie, dit lyk ek gaan dood’
Tobias het Moses Donderdag (15 Oktober), slegs ‘n dag voordat hy dood is, besoek. Tydens die besoek het Tobias die vrees in haar seun se oë gesien. “Hy was bang om dood te gaan. Hy het vir my gesê ‘mammie, soos die dokters met my gepraat het, lyk dit ek gaan dood’,” vertel die bedroefde ma.
“Ek sê vir hom: ‘Nee, moenie nou sê jy gaan dood nie. Dit is maar net jou asemhaling en die bietjie suurstof’,” vertel Tobias.
Sy het nie besef hoe ernstig die situasie werklik was nie. Volgens haar het die familie steeds gehoop hy sou herstel.
Die nuus wat daarna gevolg het, was verwoestend. Dokters het die familie meegedeel dat die kanker reeds deur Moses se liggaam versprei het en dat daar niks meer was wat hulle kon doen om hom te genees nie. Hulle sou hom so gemaklik moontlik probeer hou.
Moses is Vrydagaand omstreeks 19:50 in die hospitaal oorlede.
Tobias sê sy het nooit gedink dat sy haar seun so gou sou verloor nie.
“As ek geweet het hy gaan dood, het ek die hele nag by hom gesit,” het sy hartseer beklemtoon.
Herinneringe aan ’n liefdevolle seun
Ondanks sy siekte het Moses volgens sy ma sy sin vir humor behou. Hy was lief daarvoor om grappe te maak, het ander mense met liefde behandel.
Moses was ook baie betrokke by die kerk, aldus sy ma.
“Huson het ‘n baie mooi stem gehad en ek is ook lief vir sing. Ons het altyd saam gesing,” vertel sy.
Moses wou graag ‘n dominee word. Een van die bestuurslede by YearBeyond waar hy gewerk het, het hom gehelp om aansoek te doen by universiteite om die droom na te jaag.
Tobias sê sy het nie besef hoeveel mense haar seun geken het en hoeveel hy vir ander beteken het nie. Ná sy dood het mense haar gekontak en vertel hoe hulle hom geken het deur sy sang en betrokkenheid by die kerk.
Vir haar bly hy die stil, liefdevolle seun wat graag gesing en grappe gemaak het, en selfs tydens sy siekte sy glimlag behou het.




