Cornell Moses (13) het Woensdag sy jare lange stryd teen kanker verloor. Foto: Verskaf

Tienerseun van Paarl verloor stryd teen kanker


Cornell Moses (14) van die Paarl het elke dag gewag vir die oomblik wanneer hy uiteindelik die klokkie by die hospitaal kon lui. Hy het telkemale vir sy pa, Collin Moses (52), gevra “wanneer is dit my beurt”?

“Wanneer jy kankervry is,” het sy pa hom geantwoord. Dan kon hy die klokkie lui en huis toe gaan. Maar Cornell het nooit daardie kans gekry nie.

Die gr. 5-leerder van Laerskool Paulus Joubert het Woensdag (26 Augustus) sy stryd teen kanker verloor.

Sy suster, Chanté Moses (30), vertel hy het elke dag gewag dat die dokters vir hom die nuus sou gee waarna hy so uitgesien het – dat hy kankervry is, die klokkie kan lui en uiteindelik huis toe kon gaan.

“Cornell het so uitgesien na daardie oomblik,” vertel sy huilend.

Moses sê sy gun haar boetie nou die rus.

Terwyl Cornell in die hospitaal was, het hy baie pyn verduur. Tog het hy gereeld met sy familie in video-oproepe kontak gemaak. “Soms was hy nie eens lus om te praat nie, maar hy wou net ons gesigte sien,” vertel sy.

Leukemia is Januarie 2023 by hom gediagnoseer net twee weke nadat sy ma, Sylvia (51) aan diabetes dood is.

Volgens Moses het Collin hom dokter toe geneem nadat Cornell skielik siek begin raak het. Die dokter het hom daarna na die Paarl-hospitaal vir toetse verwys.

“Toe vind ons uit hy het kanker,” sê sy.

Cornell was sedertdien gereeld in en uit die hospitaal. Hy is op 16 Augustus weer in Tygerberg opgeneem. Etlike ure voordat Cornell gesterf het, het sy hart vier keer gaan staan. “Dit wys vir my dat hy tot op die uiterste baklei het, tot in sy laaste oomblikke,” sê Moses.

Hoewel Moses geweet het haar boetie is ernstig siek en haarself vir die ergste voorberei het, het sy nie verwag om so kort ná hul ma se dood weer ’n geliefde aan die dood af te staan nie.

Cornell word deur sy suster onthou as ’n stil kind met ’n groot, kleurvolle persoonlikheid wat lief was vir speel.

Moses sê Cornell het daarvan gedroom om eendag ‘n polisieman te word. “Hy wou slagoffers beskerm en slegte mense vang,” vertel sy.

Ná hul ma se dood het Moses ’n meer moederlike rol in Cornell se lewe begin speel.

“Dit was vir my moeilik om te kyk hoe Cornell ly. Ek het magteloos gevoel, want ek het nie geweet hoe om hom te help nie,” sê sy. “Maar ek vind berusting in die wete dat hy nou terug by my ma is.”

Die Laerskool Paulus Joubert het hulde aan Cornell gebring op hul Facebook-blad. Die skool sê hulle is platgeslaan deur die nuus van sy dood.

“Ons harte gaan uit na Cornell se familie, vriende, klasmaats en almal wat hom geken en liefgehad het,” het die skool geskryf.

“Jy sal altyd deel van ons Paulus-familie wees.”

Cornell word Sondag (6 September) begrawe.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article