Christopher Samuels (54), ‘n gemeenskapsaktivis van Amstelhof in die Paarl, is Woensdag (2 September) aan ‘n hartaanval oorlede. Foto: Verskaf

Bekende aktivis van die Paarl sterf skielik

Christopher Samuels (54), ‘n gemeenskapsaktivis van Amstelhof in die Paarl, is Woensdag (2 September) aan ‘n hartaanval oorlede. Foto: Verskaf

Die skielike dood van die bekende aktivis Christopher Samuels (54) van Amstelhof in die Paarl, het sy familie en die gemeenskap onkant betrap.

Samuels is gister (Woensdag 2 September) aan ‘n hartaanval dood – ondanks die feit dat hy volgens sy dogter Amharic Samuels (25) glad nie siek was nie.

“Dit was ’n doodgewone dag. Ons het gaan slaap en toe hoor ons my ma skree: ‘Nee! Julle pa!’

“Hy het nog so baie gehad om voor te lewe.”

Samuels was volgens Amharic van so lank gelede as wat sy kan onthou, by die gemeenskap betrokke en het hom veral vir jeugbemagtiging beywer.

Sy sê haar pa het tot kort voor sy dood probeer om geleenthede vir jongmense in Amstelhof te skep en hulle van beskikbare geleenthede bewus te maak.

Hy het onder meer probeer om internskappe vir jongmense te bekom en was ook betrokke by sport en dans in die gemeenskap.

“Hy het nooit moeg geraak om vir die jeug en bejaardes te baklei nie. Hy het ver gegaan om ons jeug bewus te maak van geleenthede en om die regte pad te kies,” vertel sy trots.

Amharic beskryf haar pa as ’n spontane en energieke mens wat altyd ’n vertrek kon verhelder.

“Hy was nooit kwaad teenoor ander nie en het altyd uit sy pad gegaan om ’n gesprek aan te knoop en ’n grappie te maak,” beklemtoon sy.

Een van die laaste herinneringe wat Amharic aan haar pa het, is waar hy saam met ’n vriend na ’n video kyk.

Hy was opgewonde om met sy vriend te gesels oor hoe rastafariërs behoort te leef.

“Ek het na hom gekyk en geglimlag, want ek het besef hy leef regtig so met almal. Dit is hoe ek hom wil onthou – as iemand wat positiwiteit versprei het; oral waar hy gegaan het,” sê sy.

Samuels was volgens Amharic ook lief vir paduitstappies en het gereeld sy gesin aangemoedig om “sommer net” die pad te vat.

Wanneer sy kinders gesê het hulle het nie genoeg geld vir ’n daguitstappie nie, het hy volgens haar gesê dit gaan nie daaroor nie en dat hulle net Kaap toe kan ry om die see te sien voordat hulle weer huis toe gaan.

Die gesin het hul laaste paduitstappie saam met hom drie weke voor sy dood gehad.

Amharic sê haar pa se betrokkenheid by die gemeenskap het verder gestrek as net bemagtiging van die jeug.

Hy het volgens haar probeer om jongmense bewus te maak van geleenthede, hulle aan te moedig om die regte keuses te maak en aktiwiteite soos sport en dans na die gemeenskap te bring.

“Ons het nie net ’n man en pa verloor nie, maar ’n gemeenskapsman.”

Samuels laat sy vrou, Roseline (53), sy kinders, Sadonnay (31), Amharic (25) en Urshley Lyners (5), asook sy sesjarige kleinkind, Cayden, agter. Urshley is deur die gesin aangeneem.

Amharic is ’n eerstejaarstudent in maatskaplike werk en sê haar pa wou graag hê sy moes in sy voetspore volg.

Sy sê haar pa se dood moet ander mense aanmoedig om voort te gaan met die werk waarvoor hy hom beywer het.

“Sy dood moet nie tevergeefs wees nie. Elke mens wat al met hom paaie gekruis het, moet die mens onthou wat hy in daardie oomblik was en daarna streef.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article