Justin (“Justine”) Davids is op Vrouedag in die vroeë oggendure vermoor. Foto: Facebook

Justin-saak uitgestel

Justin (“Justine”) Davids is op Vrouedag in die vroeë oggendure vermoor. Foto: Facebook

Die saak teen twee verdagtes in die moord op Justin (“Justine”) Davids (17), is Dins-dag (1 September) in die landdroshof in die Paarl tot 6 Oktober uitgestel.

Die saak sal tydens die volgende hofverskyning na die streekshof verwys word, waar ‘n datum vir verdere verrig- tinge bepaal sal word.

Tydens Dinsdag se verrigtinge het verdagte nommer drie aangedui dat hy sy borgtogaansoek vir nou laat vaar. Dít nadat die hof aangedui het dat daar nie ‘n regshulpprokureur vir hom beskikbaar was nie en hy glo nie ‘n private prokureur kan bekostig nie.

Die verrigtinge is in camera aangehoor omdat een van die verdagtes minderjarig is.

Verdagte nommer twee is op 24 Augustus vrygelaat nadat die klag teen hom teruggetrek is. Hy het na bewering weggehardloop toe een van die ander verdagtes vir Justin begin steek het. Sy verklaring stem glo ook ooreen met dié van ‘n ander getuie en die oorblywende verdagtes.

Die twee verdagtes wat steeds in aanhouding is, het verlede Woensdag (26 Augustus) ook in die Paarlse landdroshof vir borgtogverrigtinge verskyn.

‘hier’s kos, kom huis toe’

Justin, ‘n trotse lid van die LGBTQI+-gemeenskap en ‘n gr.10-leerder aan die L.K. Zeeman Academy, is op 9 Augustus in die vroeë oggendure op ‘n oop stuk veld in Paulusstraat, Lantana, dood aangetref.

Hy het kort voor sy dood met sy ma, Jennifer Davids (58), op WhatsApp gesels en gevra of sy vir hom kos gehou het.

“Dit was net voor twaalf Saterdagnag en ek het vir hom gesê ja, hier is nog kos, kom huis toe. Ek wens hy het daardie tyd huis toe gekom,” het Davids voorheen aan Paarl Post gesê.

Toe Justin se lyk gevind is, het hy op sy sy in ‘n plas bloed gelê. Sy oë en mond was oop.

Hy is op 21 Augustus vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk in Magnolia begrawe en het sy laaste rusplek by die Nuwedrift-begraafplaas in die Paarl gevind.

uitstel van saak frustreer

By sy begrafnis het sy familie hom beskryf as “die hartklop van die huishou- ding, hardwerkend en kreatief”. Hy was ook baie lief vir sy ma en sy suster.

Sy suster, Francolene Davids (23), het ná ‘n vorige hofverskyning gesê die familie verstaan dat die hof ‘n sekere protokol moet volg, maar dat dit steeds frustrerend is om telkens hof toe te gaan net om te hoor die saak is uitgestel. Sy sê die familie bly hoopvol dat die waarheid uiteindelik sal uitkom en dat geregtigheid sal geskied.

Die familie het voorheen kommer uitgespreek oor die vrylating van verdagte nommer twee.

“Ek is net bang die ander verdagtes se families intimideer hom of hulle maak hom seer, dan is ons terug waar ons begin het, sonder antwoorde.”

Justin se dood het ook ‘n groot reaksie in die LGBTQI+-gemeenskap ontlok.

Carla Gulante Vontez, ‘n LGBTQI+-

aktivis en Justin se goeie vriendin, het hom voorheen beskryf as iemand wat verdien het om te lewe, geliefd te wees en veilig te voel.

Justin se familie, vriende en die breër gemeenskap het hom ná sy dood as ‘n geliefde jong man onthou wat ‘n blywende indruk op die mense rondom hom gemaak het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article