Justin se familie en vriende het tydens ‘n vorige hofverskyning borgtog teengestaan en voor die hof met plakkate betoog. Foto: Megan Adendorff

Verdagte in Justin (Justine) Davids-moordsaak vrygelaat

Justin se familie en vriende het tydens ‘n vorige hofverskyning borgtog teengestaan en voor die hof met plakkate betoog. Foto: Megan Adendorff

Verdagte nommer twee in die Justin (Justine) Davids-moordsaak is Maandag (24 Augustus) vrygelaat.

Die klag teen hom is terug getrek. Hy het na bewering weggehardloop toe een van die ander verdagtes vir Justin begin steek. Sy verklaring stem glo ook ooreen met die van die ander getuie en die verdagtes.

Die saak is Woensdag (26 Augustus) weer in die landdroshof in die Paarl vir verdere borgtog verrigtinge aangehoor.

Verdagte nommer een het aangedui dat hy steeds sy aansoek om borgtog gaan laat vaar “vir nou.” Die derde verdagte gaan egter steeds voort met sy aansoek.

Die saak is uitgestel tot Dinsdag (1 September). Verdagte nommer een en drie bly in aanhouding. Die hof was weer in camera omdat een van die verdagtes minderjarig is.

Justin was ‘n trotse lid van die LGBTQI+- gemeenskap en volgens sy vriende was hy in ‘n verhouding met een van die verdagtes wat in aanhouding is.

Justin (17), ‘n gr.10-leerder by L.K. Zeeman Academy is Saterdag (9 Augustus) dood op ‘n oop stuk veld in Paulusstraat in die Lantana-woongebied aangetref. Die voorval het in die vroeë oggendure plaasgevind. Justin het nog kort voor sy dood met sy ma Jennifer Davids (58) op WhatsApp gesels en gevra of sy vir hom kos gehou het. Sy is etlike ure daarna geroep en in kennis gestel dat haar kind gesteek is.

Toe sy liggaam gevind is, het Justin op sy sy in ‘n plas van sy eie bloed gelê en sy oë en mond was oop.

Justin is Vrydag uit die Nuwe Apostoliese kerk in Magnolia begrawe. Hy het sy finale rusplek by die Nuwedrift begrafplaas in die Paarl gevind.

LEES MEER: Talle betoon laaste eer aan die vermoorde Justin Davids in Paarl

Justin se suster Francolene Davids (23) het Woensdag buite die hof aan Paarl Post gesê sy verstaan ​​dat daar sekere protokol is wat die hof moet volg, maar dit frustreer haar steeds dat hulle elke keer hof toe moet gaan net om te hoor dat die saak uitgestel is. Verder het sy gesê die familie is hoopvol dat die waarheid sal uitkom en geregtigheid sal seëvier, veral omdat die saak teen verdagte nommer twee terug getrek is.

“Ek voel hy moet na ‘n plek van veiligheid geneem word, ek is net bang die ander verdagtes se families intimideer hom of hulle maak hom seer, dan is ons terug waar ons begin het, sonder antwoorde,” het sy moedeloos beklemtoon.

Davids sê al wat die familie wil hê is geregtigheid, en alhoewel dit nie haar broer sal terug bring nie, sal die wete dat diegene wat sy lewe geneem het boet vir hul dade, berusting aan die familie bring.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article