Talle betoon laaste eer aan die vermoorde Justin Davids in Paarl

Justin Davids
Justin (Justine) Davids, ‘n 17-jarige jongman van die Paarl, is vandag ter ruste gelê. Hy is op 9 Augustus vermoor. Foto: Facebook

Talle betoon laaste eer aan die vermoorde Justin Davids in Paarl

Justin Davids
Justin (Justine) Davids, ‘n 17-jarige jongman van die Paarl, is vandag ter ruste gelê. Hy is op 9 Augustus vermoor. Foto: Facebook

Oud en jonk het vandag (21 Augustus) die Nuwe Apostoliese kerk in Magnolia volgepak om hul laaste eer aan Justin Davids, ‘n 17-jarige jongman van die Paarl, te betoon.

Justin, alombekend as Justine, ‘n trotse lid van die LGBTQI+- gemeenskap, het ‘n kleurvolle vlag op sy kis gehad om pride ten toon te stel.

Dié gr.10-leerder by L.K. Zeeman Academy is onlangs in die vroeë oggendure op ‘n oop stuk veld in Paulusstraat, Lantana, dood aangetref. Toe Justin se lyk gevind is, het hy op sy sy gelê, sy gesig was vol bloed en sy oë en mond was oop.

Die begrafnisboodskap, gebring deur evangelis Jerome Hartog, was duidelik en eenvoudig: Laat die mens met geen sonde nie die eerste klip gooi. Hy het ook die belangrikheid van vergifnis beklemtoon. “Ons moet kan vergewe, want Jesus het vir ons daardie pragtige voorbeeld gestel,” het hy gesê.

Justin was die jongste kind van Jennifer Davids en Jeremy Linee. Justin word oorleef deur sy ouers, sy ouer tweelingbroers Austin en Owen (30) en sy suster, Francolene (23). Justin word ook oorleef deur ‘n wye vriendekring van oud en jonk.

In ‘n huldeblyk het sy familie hom beskryf as “die hartklop van die huishouding, hardwerkend en kreatief”.

Volgens die huldeblyk was Justin baie lief vir sy ma en sou hy enigiets vir haar doen.

“Hy was passievol oor alles wat hy aangepak het en het alles met oorgawe gedoen.” Justin was ook baie lief vir sy suster en sou sonder om te skroom haar skottelgoedbeurt keer-op-keer by haar oorneem. Die familie sê Justin se hulpvaardigheid het tot ver buite die mure van hul huis gestrek. Enigeen kon hom enige plek stuur of om hulp vra.

Dié gr.10-leerder by L.K. Zeeman Academy was luidens die huldeblyk goed gedissiplineerd.

Hartog beskryf Justin as ‘n gelowige mens, wat eers ‘n kind van God was voordat hy ‘n kind vir sy ouers of een in die gemeenskap was.

Die koor het die diens met sagte sang afgesluit. Justin is in die Nuwedrift-begraafplaas in die Paarl ter ruste gelê.

LEES MEER: 17-jarige leerder van die Paarl vermoor

Drie jong mans van onderskeidlik 17, 18 en 20 jaar oud wat daarvan beskuldig word dat hulle Justin vermoor het, het Woensdag (19 Augustus) vir ‘n formele borgtogaansoek in die landdroshof in die Paarl verskyn. Tydens die verskyning het verdagte nommer een aangedui dat hy sy aansoek om borgtog gaan laat vaar.

Die ander twee gaan egter voort. Die saak is tot Woensdag (26 Augustus) vir verdere borgtogverrigtinge uitgestel.

LEES MEER: Twee van drie verdagtes in Justin Davids-moordsaak doen aansoek om borgtog

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article