Twee van drie verdagtes in Justin Davids-moordsaak doen aansoek om borgtog

Oud en jonk het vandag, Woensdag 19 Augustus, by die landdroshof in die Paarl opgedaag ter ondersteuning van Justin (Justine) Davids wat op 9 Augustus vermoor is. Foto: Megan Adendorff

Twee van drie verdagtes in Justin Davids-moordsaak doen aansoek om borgtog

Oud en jonk het vandag, Woensdag 19 Augustus, by die landdroshof in die Paarl opgedaag ter ondersteuning van Justin (Justine) Davids wat op 9 Augustus vermoor is. Foto: Megan Adendorff

Drie verdagtes in die Justin (Justine) Davids-moordsaak, onderskeidelik 17, 18 en 20 jaar oud, het vandag (19 Augustus) vir ‘n formele borgtogaansoek in die landdroshof in die Paarl verskyn.

Die hof was in camera omdat een van die verdagtes minderjarig is.

Tydens die verrigtinge het verdagte nommer een aangedui dat hy sy aansoek om borgtog gaan laat vaar. Die ander twee gaan egter voort.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Justin, ‘n gr.10-leerder aan L.K. Zeeman Academy, op 9 Augustus in die vroeë oggendure vermoor het. Sy lyk is op ‘n oop stuk grond in Paulusstraat in die Lantana-woongebied gevind.

Die staat het Woensdag op rekord geplaas dat al drie verdagtes geen vorige veroordelings het nie, maar staan steeds borgtog teen. Die saak is uitgestel tot komende Woensdag (26 Augustus) vir verdere borgtogverrigtinge. Hulle bly in aanhouding.

LEES MEER: 17-jarige leerder van die Paarl vermoor

Justin se familie en vriende het Woensdag saam met verskeie lede van die publiek by die hof opgedaag. Hulle het met plakkate voor die hof gestaan en betoog. “No bail, no bail, justice for Justine,” het die groep geskree terwyl hulle die plakkate omhoog gehou het.

Justin (Justine) Davids se ondersteuners het vandag voor die hof betoog. Die groep staan moontlike borg teen.

Die groep het Woensdag ‘n petisie aan die hof oorhandig wat die moontlike borgtog vir die verdagtes teenstaan. Die petisie is deur vyfhonderd mense onderteken.

Justin se suster, Francolene Davids (23), het buite die hof aan Paarl Post gesê die “familie is nie tevrede met die feit dat daar ‘n moontlikheid is dat hulle drie vrygelaat kan word op borgtog nie”.

Jeremy Linee (58) sê hy was baie meer kalm toe hy die drie hierdie keer in die beskuldigdebank sien. “Al wat ek nou soek, is geregtigheid vir my kind. Sy dood was nie natuurlik nie, hy is vermoor. Ek voel geregtigheid moet geskied,” het die pa beklemtoon.

Colette Titus (53), die ma van een van Justin se vriende, was ook ter ondersteuning van Justin by die hof. Sy sê “dis nie reg dat ons kinders vermoor word en dan loop die moordenaars vry rond en ons wat die seer dra, moet hulle weer in die gesig kyk nie. Ons staan die borgtog teen”.

Justin het voor Iline Daniels (55) grootgeword, sy is ‘n jare lange vriendin van Jennifer Davids (58), Justin se ma. Daniels sê woorde kan nie haar pyn beskryf nie. “Justin was ‘n goeie kind, hy het dit nie verdien nie, geregtigheid moet geskied,” het sy hartseer beklemtoon.

Lushanti Sias (23), een van Justin se jare lange vriendinne, sê sy voel koud teenoor die verdagtes. “Ek voel die gereg moenie genadig wees teenoor hulle nie, want hulle was nie genadig teenoor onse Justine nie. Hulle moet vrot in die tronk, want moordenaars kan nie vrygelaat word nie,” het sy duidelik ontsteld beklemtoon.

Carla Gulante Vontez, ‘n aktivis vir die LGBTQI+- gemeenskap en Justin se goeie vriendin, het intussen nog ‘n petisie opgestel in ‘n poging om die drie se borgtog teen te staan.

Justin se ma kon nie die verrigtinge bywoon nie, sy het ‘n doktersafspraak gehad. Hy word Vrydag (21 Augustus) ter ruste gelê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article