Die saak teen twee verdagtes in die moord op Justin (Justine) Davids (17) is Dinsdag (6 Oktober) in die landdroshof in die Paarl na die streekhof verwys.
Die saak is tot 20 November uitgestel. Die verdagtes word aangehou.
Een van die verdagtes is minderjarig, dus is die verrigtinge in camera aangehoor.
By hul vorige hofverskyning op 1 September is die saak tot 6 Oktober uitgestel met die oog daarop dat dit na die streekhof verwys sou word.
Lees meer: Justin-saak uitgestel
Verdagte nommer drie het by daardie verrigtinge aangedui dat hy sy borgtogaansoek “vir nou” laat vaar. Dit het gekom nadat die hof aangedui het dat daar nie ’n regshulpprokureur vir hom beskikbaar was nie en hy glo nie ’n private prokureur kon bekostig nie.
Verdagte nommer twee is op 24 Augustus vrygelaat nadat die aanklag teen hom teruggetrek is. Hy het na bewering weggehardloop toe een van die ander verdagtes vir Justin begin steek het. Sy verklaring stem glo ook ooreen met dié van ’n ander getuie en die oorblywende verdagtes.
Lees meer: Verdagte in Justin (Justine) Davids-moordsaak vrygelaat
Justin, ’n gr. 10-leerder aan L.K. Zeeman Academy en lid van die LGBTQI+-gemeenskap, is op 9 Augustus in die vroeë oggendure op ’n oop stuk veld in Paulusstraat, Lantana, dood aangetref.
Beeldmateriaal van die ontdekking van Justin se liggaam het die ronde op sosiale media gedoen. Toe sy liggaam gevind is, het Justin op sy sy in ‘n plas van sy eie bloed gelê en sy oë en mond was oop.
Voorheen is berig dat Justin kort voor sy dood met sy ma, Jennifer Davids (58), op WhatsApp gesels en gevra het of sy vir hom kos gehou het.
“Dit was net voor twaalf Saterdagnag en ek het vir hom gesê ja, hier is nog kos, kom huis toe. Ek wens hy het daardie tyd huis toe gekom,” het Davids vroeër aan Paarl Post gesê.
Lees meer: 17-jarige leerling van die Paarl vermoor
Hy is op 21 Augustus vanuit die Nuwe Apostoliese kerk in Magnolia begrawe en het sy laaste rusplek in die Nieuwedrift-begraafplaas in die Paarl gevind.
Sy suster, Francolene Davids (23), het ná ’n vorige hofverskyning gesê die familie bly hoopvol dat die waarheid uiteindelik sal uitkom en dat geregtigheid sal geskied.
Die familie het ook voorheen kommer uitgespreek oor die vrylating van verdagte nommer twee.
“Ek is net bang die ander verdagtes se families intimideer hom of maak hom seer, dan is ons terug waar ons begin het, sonder antwoorde,” het Francolene gesê.
Justin se dood het ook ’n groot reaksie binne die LGBTQI+-gemeenskap ontlok.
Carla Gulante Vontez, ’n LGBTQI+-aktivis en Justin se goeie vriendin, het hom voorheen beskryf as iemand wat verdien het om te lewe, geliefd te wees en veilig te voel.
Sy het gepleit dat lede van die LGBTQI+-gemeenskap met waardigheid en respek behandel word.





