‘n Bedroefde ouerpaar van die Paarl is met talle vrae gelaat nadat hul seun wat “skaars ‘n vlieg kon seermaak,” Sondag (9 Augustus) in die vroeë oggendure aangeval en doodgesteek is. Sy bebloede liggaam is op ‘n oop stuk land gevind. Daar sal vanaand (13 Augustus) ‘n kersseremonie gehou word op die plek waar Justin Davids ook bekend as Justine (17) se liggaam gevind is.
Justin was ‘n trotse lid van die LGBTQI+- gemeenskap en het nog op die dag wat hy dood is ‘n modeparade gewen. “Hy was die queen,” sê Jennifer Davids (58), Justin se ma.
Volgens die polisie het die voorval omstreeks 01:00 in Paulusstraat in die Lantana-woongebied plaasgevind.
Hy het nog kort voordat hy vermoor is met Davids op Whatsapp gepraat en gevra of daar nog kos is. “Dit was net voor twaalf Saterdagnag en ek het vir hom gesê ja hier is nog kos, kom huis toe. Ek wens hy het daardie tyd huis toe gekom,” vertel die bedroefde ma.
Sers. Wesley Twigg, ‘n polisiewoordvoerder het by navraag aan Paarl Post gesê Justin en sy vriende het luidens berigte oor ‘n oop veld geloop toe hulle deur drie verdagtes aangeval is.
Twigg sê die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Beeldmateriaal van die ontdekking van Justin se lyk word wyd en syd op sosiale media versprei. In die grusame video lê Justin op sy sy in ‘n plas van sy eie bloed, met een van sy arms agter sy rug. Toe sy liggaam gevind is, was sy gesig vol bloed en sy oë en mond was oop. Verskeie stemme, sommige hoorbaar ontsteld, word in die agtergrond van die video gehoor.
Mammie oom Jerry (Jeremy Linee (58), Justin se pa) gaan nie lag nie,” het een vrou huilend gesê. “Bel die ambulans, die polisie,” het ‘n man van agter die kamera gesê.
“Ek het gesê kom terug, ek het vir haar (vir Justin) gesê kom weer terug,” het nog ‘n persoon huilend gesê. ‘n Volgende persoon vra toe “met wie het julle geloop?” Waarop die eerste persoon geantwoord het “Sy het saam met die outjies geloop.”
Davids sê van Justin se vriende het na bewering by ‘n taverne gekuier toe iemand hulle laat weet hy is aangeval en hy lê op die oop stuk grond. Hulle het haar omstreeks 01:30 kom roep en in kennis gestel. “Ek het toe my buurman wakker gemaak en hom gevra om my te neem tot daar waar hy gelê het. Toe ek arriveer was die polisie reeds daar, maar sy liggaam was nog nie bedek nie. Ek het nie gaan kyk nie, ek wou nie kyk nie. Ek wou my kind onthou soos ek hom nog laas gesien het,” vertel sy hartseer.
Davids sê toe sy op die toneel kom het verdriet oor haar gekom, maar die pyn was nog nie so erg soos dit nou is nie. “Realiteit het daardie tyd nog nie ingeskop nie, ek het gedink hy gaan nog huis toe kom, maar alles het vanoggend so werklik geword, ek kry nie die woorde om my pyn te beskryf nie,” sê sy.
Die bedroefde ma sê sy kan nie verstaan hoekom iemand haar seun sou wou vermoor nie. “Justin kon nie eens ‘n vlieg seermaak nie. Hy was ‘n mense mens en hy het altyd almal gehelp waar hy kon. Die Here weet ek het ‘n goeie kind verloor,” sê sy.
Twigg sê drie jong mans van 17, 18 en 20-jaar oud is intussen in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die verdagtes het Dinsdag (11 Augustus) en Woensdag (12 Augustus) in die landdroshof in die Paarl voorgekom.
Linee sê toe hy Woensdag in die hof kom en die verdagtes in die gesig kyk het hy van voor af ontsteld geraak. “Weet jy ek sit in ‘n rystoel, my linkerbeen is geamputeer, toe ek hulle Woensdag sien het daar net een ding deur my kop gegaan: as ek nou nog reg was, sou hulle dit nooit tot by die tronk gemaak het nie,” vertel die pa ontsteld.
Volgens Linee is die saak Woensdag uitgestel tot komende Woensdag (19 Augustus), die minderjarige verdagte is na die Bonnytoun veilige sorgsentrum in Kraaifontein verplaas en die ander twee is in aanhouding by die Allandale gevangenis. Linee sê hulle is in afwagting van ‘n formele borgtogaansoek.
Justin was ‘n leerling aan L.K. Zeeman Academy. Die skool het die nuus “met swaar harte,” in ‘n plasing op hul Facebook-blad gedeel.
Die skool het ook in die plasing gesê Justin se warm teenwoordigheid, lewendige gees en die stille krag wat hy uitgestraal het, sal gemis word deur almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. ” Hy het ’n blywende indruk op ons skoolgemeenskap gelaat, en ons is dankbaar vir die tyd wat ons met hom gedeel het.”
“Aan Justin se familie, vriende en geliefdes: weet asseblief dat julle in ons gedagtes en gebede is. Mag julle troos, krag en vrede vind in die dae wat voorlê. Rus sag, Justin. Jy sal altyd met liefde onthou word,” het die skool verder geskryf.
Carla Gulante Vontez, ‘n aktivis vir die LGBTQI+- gemeenskap en Justin se goeie vriendin sê die nuus van wat met Justin gebeur het, het haar hart gebreek. Sy beskryf Justin as ‘n mens wat verdien het om te lewe, geliefd te wees, veilig te voel en gerespekteer te word.
Vontez sê sy is moeg daarvoor om te hoor van queer mense wat vermoor of mishandel word.
“As lede van die LGBTQI+- gemeenskap vra ons vir iets waarvoor daar nooit gesmeek behoort te word nie: die reg om veilig, vry en met waardigheid te lewe. Ons verdien nie geweld nie, ongeag vir wie ons liefhet of hoe ons onsself identifiseer. Ons verdien om deur ons families aanvaar te word, deur ons gemeenskappe gerespekteer te word en gelyk deur die wet beskerm te word,” beklemtoon sy.



