‘n Klag van bedrog is in Junie vanjaar teen die omstrede ds. Michael Wildeman, wat aan die VGK Hugenote-gemeente verbonde was, aanhangig gemaak.
Wildeman is vroeër, op 20 Mei, amptelik uit sy pos as die gemeenteleier van die VGK Hugenote ontslaan. Die afdanking het gevolg nadat Wildeman onder die soeklig geplaas is oor geld wat aan die kerk behoort het en net skoonveld was.
Paarl Post het oor die beweerde finansiële ongerymdhede berig nadat daar opgemerk is dat geld uit die kerk se bankrekening verdwyn het.
Wildeman het in April ook opspraak gemaak toe verskeie gemeentelede keer dat hy die kansel moet betree, veral omdat daar nie duidelikheid was oor die kerk se geldsake nie. ‘n Anonieme gemeentelid het destyds aan Paarl Post onthul daar nie vir geld, insluitend die offergawes vir 2024, verantwoording gedoen kon word nie. Die kwessie het na vore gekom nadat ‘n diensverskaffer glo nie betaal is nie, wat die kerkraad genoop het om toegang tot finansiële state te eis. Dit is toe dat daar agter die kap van die byl gekom is rakende die finansies wat spoorloos verdwyn het.
Lees Ook: Paarlse VGK-gemeente soek antwoorde oor hoekom kerk se rekeninge leeg is
Paarl Post verneem ook vertroulik dat Wildeman steeds in die pastorie woonagtig is. Hy is ná sy afdanking ses maande grasie gegee om nog in die pastorie te woon. Die ses maande verstryk in November, wanneer hy die perseel moet verlaat.
By navraag het Thembakazi Mpendukana, ‘n woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, bevestig dat ‘n klagte teen Wildeman aanhangig gemaak is.
“Hierdie kantoor kan bevestig dat ‘n bedrogsaak op Maandag 15 Junie by die Paarl-Oos-polisie aanhangig gemaak is. Die ondersoek is steeds aan die gang en geen inhegtenisname is nog gemaak nie.”
Intussen het nóg ‘n anonieme gemeentelid na Paarl Post uitgereik.
“Al wat ons weet, is dat die ring het self dominee Wildeman se band losgemaak weens die gerugte en die ongerymdhede. By ons as gemeentelede gaan dit nou basies oor wat die ondersoek verder gaan oplewer. Dit is net snaaks dat die saak byna twee maande gelede gemaak is en daar het nog net niks gebeur nie.
“Die ondersoekbeampte kom net nie uit by die kerkkantoor om te sê hoe ver die saak is nie en wat ook al aangaan nie. Die gemeente wag ook mos maar nou om te hoor wat aangaan.”
Wildeman en sy oorlede vrou, Margaret, is aan die begin van 2023 by VGK Hugenote verwelkom.


