WOLSELEY – ’n Bejaarde man (75) is bewusteloos deur paramedici in die gastehuis waar hy en sy vrou (67) vroeër tuisgegaan het aangetref, nadat vier gemaskerde booswigte in die middernagtelike ure by hul wooneenheid in die Wolseley-omgewing ingebreek, hom met stokke aangerand en toe probeer verwurg het.
Kort voor hulle hom aangerand het, het hulle sy vrou se trouringe met geweld van haar vingers afgeruk, haar vasgebind en in ‘n hoek laat sit sodat sy nie kon sien hoe hulle haar man martel nie.
Die vrou se dogter, Lida, vertel aan NovaNews dat haar ma en stiefpa Sondag (30 Augustus) vanaf Stilbaai onderweg was om iewers na blomme te gaan kyk. Die vrou wou nie haar van of haar ma en stiefpa se name bekend maak nie. Volgens haar het hulle (die bejaarde egpaar) op hul roete die betrokke dag besluit om by die betrokke gastehuis te oornag.
Lida sê volgens inligting tot haar beskikking het die boosdoeners – voor hulle haar ma en stiefpa aangeval het – eers by ‘n paar onbewoonde gastehuise op die plaas ingebreek waar hulle onder meer messe gesteel het. Sy sê teen die tyd wat hulle by haar ma-hulle se gastehuis opgedaag het, het hulle presies geweet hoe die uitleg van die gastehuis lyk en waar die ligskakelaars is.
Lida sê die oomblik toe die inbrekers toegang tot haar ma-hulle se gastehuis gekry het, het hulle (die boosdoeners) onmiddellik al die ligte aangeskakel. Volgens haar het haar ma-hulle in daardie stadium reeds geslaap.
Volgens Lida het die booswigte haar ma vasgebind en haar in ‘n hoek laat sit terwyl hulle haar stiefpa met stokke oor sy gesig en kop aangerand het. Sy sê haar stiefpa is bewusteloos gelaat toe hulle hom probeer verwurg het.
“My ma se man is baie klein gebou. Hy is 75 jaar oud en maar lig. Hy is nie ‘n sterk man nie. Hulle het geen rede gehad om hom aan te rand nie, want hulle sou in elk geval vir hulle alles gegee het waarna hulle gesoek het.”
Volgens Lida het die booswigte haar ma en stiefpa se tasse uitgegooi soos hulle na iets waardevol gesoek het. Sy sê hulle het voorts albei haar ma se trouringe – dit wat haar oorlede pa destyds aan haar ma se vinger gesteek het asook dit van haar huidige man – van haar vingers afgeruk. Volgens Lida het die boosdoeners laat spaander met onder meer die trouringe, selfone, haar ma se skootrekenaar en ‘n baadjie waarin hul motorsleutels was.
Lida sê kort voor die aanvallers die pad gevat het, het hulle aan haar ma gesê hulle gaan terugkom. Volgens haar kon haar getraumatiseerde ma daarin slaag om haarself los te wikkel en in die middernagtelike ure 800m ver na die hoofhuis hardloop om hulp te ontbied.
“My ma het die plaashuis se hek oopgestoot. Sy het nie eens geweet of daar honde is wat haar moontlik kon byt nie. Sy het aan die deur gehamer, maar die eienaar was nie tuis nie.”
Volgens Lida het plaaswerkers wat nie ver van die hoofhuis woon nie haar ma se hulpkrete gehoor, haar te hulp gesnel en die plaaspatrollie ontbied. Sy sê haar stiefpa is met ‘n privaat-motor na die Ceres- provinsiale hospitaal vervoer. Lida sê haar stiefpa moes onder meer steke bo sy oog kry. Volgens haar het hy ook beserings aan sy hande opgedoen soos hy probeer het om die houe af te weer. Haar ma se hande het ook seergekry toe die booswigte die trouringe afgeruk het.
“Vanoggend (31 Augustus) het my ma ge-click die booswigte het nie haar tablet gevat het nie. Sy het toe op haar mails gegaan en vir ons (haar vier kinders) ’n email gestuur waarin sy sê dat hulle aangeval is, maar okay is en dat hulle by die Ceres- provinsiale hospitaal is. My broer het later die oggend (sewe-uur) eerste die email gesien en my onmiddellik gebel.
“Ek het die eienaar gebel om uit te vind wat aangaan ná my ma my die location van die plaas gestuur het.
Volgens Lida is haar stiefpa later na ‘n privaathospitaal oorgeplaas waar skanderings op hom gedoen is om onder meer seker te maak daar is nie bloeding op die brein nie.
Die eienaar van die gasteplaas Willie Naude sê: “Wat gebeur het, was baie unfortunate. Ek het nooit kon dink dat so iets hier op die plaas sou gebeur nie.”
Volgens Naude gaan hy die veiligheidsmaatreëls by die gasteplaas nog verder opskerp.
Kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, sê die Wolseley-polisie ondersoek ‘n klag van huisroof. Hy sê enigeen met inligting oor die voorval word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte in die saak, speursers. CD Abrahams, te bel by 079 894 0195, die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111, of alternatiewelik ‘n anonieme wenk op die MySAPS-toepassing te laat.
- Vroeër vanjaar, in Februarie, was daar ook ‘n bejaarde egpaar by ‘n idilliese blyplek buite Wolseley aangeval. In dié voorval het die egpaar tuisgegaan in vraghouers wat in luukse verblyf omgeskep is, met ‘n uitsig oor ‘n plaasdam en die Mostertshoekberge toe vier aanvallers die huis binnegekom en die egpaar gedreig het. Een van die slagoffers is met ‘n onbekende voorwerp herhaaldelik oor die kop en in sy gesig geslaan. Hy het beserings aan sy gesig opgedoen en is hospitaal toe geneem.






