WOLSELEY – Die Wolseley-plaaswag en die plaaslike polisie is hard besig om aan strategieë te werk om verdere voorvalle van plaas-aanvalle in die area hok te slaan.
Steven Matthews, voorsitter van die Wolseley-plaaswag, wou nie juis veel oor die strategieë uitwei nie. Hy het wel genoem dat hulle twee hommeltuie aangeskaf het wat deel vorm van die opgeskerpte veiligheidsplan.
Volgens hom werk die plaaswag in dié verband nou met die plaaslike polisie se landelike bevelvoerder. “Ons werk ook saam met ander private mense, honde handelaars en polisie van buite af.”
Die plaaswag het intussen ‘n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname van diegene wat vir die plaasaanvalle verantwoordelik is. Matthews sê die beloning was aanvanklik R10 000, maar een van hul lede het ‘n verdere R10 000 bygevoeg.
Die beloning volg kort nadat ‘n bejaarde egpaar van onderskiedelik 75- en 67-jaar van Stilbaai op 30 Augustus 2026 in die gastehuis waar hulle tuisgegaan het in die Wolseley-omgewing oorrompel en beroof is.
Die 75-jarige man is bewusteloos deur paramedici aangetref nadat sy aanvallers hom eers met stokke aangerand en toe probeer verwurg het. Nova News het ‘n navraag gestuur aan die polisie om vas te stel of enigeen al in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Die polisie se terugvoer sal bygewerk word sodra dit ontvang word.
In Maart 2021 is die Wolseley-gemeenskap geruk toe die lyk van Reneé Jain, Cape Union Mart se ondernemingsbestuurder, in haar woning in die De Vierde Liefde Natuurreservaat in Wolseley aangetref is. Sy was aangerand en toe versmoor. Die gewese hofordonnans Maurice Arries, Nolan Visagie, Anthony Schippers en Frederick Lottering word tans verdink van huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, sameswering om moord te pleeg, sameswering om te roof, roof en moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
LEES OOK: Bejaarde man beseer ná aanval by gasteplaas buite Wolseley
In ‘n afsonderlike voorval op 4 Augustus 2026 het vier onbekende mans ‘n 55-jarige vrou in haar sitkamer op ‘n plaas in die Wolseley-omgewing aangeval. Haar hond is geslaan en gesteek toe die troeteldier die booswigte wou verwilder. Die vrou het in die aanval kopbeserings en ‘n besering aan haar linker-oog opgedoen.
In nog ‘n voorval op 17 Maart 2026 het vier mans ‘n pasgetroude paartjie en familielede aangeval en beroof bly hul vakansieblyplek by Riverstone House op ‘n plaas in die Wolseley-omgewing.
Op 3 Februarie vanjaar is ‘n bejaarde egpaar wat in ‘n skeepshouer by ‘n bloubessieplaas langs die R43 (Palmietvlei) tussen Wolseley en Worcester tuisgegaan deur boosdoeners geteiken. Een van die bejaardes is aanhoudend met ‘n onbekende voorwerp oor die kop en gesig geslaan nadat hulle oorrompel is.
Matthews sê die aanvalle op plase in die omgewing is beslis ‘n bron van kommer omdat dit baie mense getraumatiseerd laat.






