Die trane het gevloei toe 'n man van Wolsley uitvind sy aanvaller het selfmoord gepleeg
Reint Grobler (56)

Man se trane vloei ná aanvaller se selfdood in tronk


Naarheid het hom oorval, waarna die trane begin loop het toe Reint Grobler (56) van Wolseley hoor dat Lovemore Doriyo, ‘n Zimbabwiese man wat hom byna doodgemaak het, dood is.

“Dit het gevoel asof ’n kraan oopgemaak is,” sê Grobler, wat besef het hoeveel emosionele pyn hy nog nie verwerk het nie.

Benewens die mesaanval waarin Doriyo hom tien keer gesteek het, het Grobler sy ouers kort ná mekaar verloor en deur ’n egskeiding gegaan.

“Ek was emosioneel dood en afgestomp,” het hy erg emosioneel aan Paarl Post vertel.

Grobler sê hy verlekker hom nie in Doriyo se dood nie, maar die nuus het emosies losgemaak wat hy lank onderdruk het.

‘Ek het gedink dis my dag van doodgaan’

Die aanval het op 10 April 2022 plaasgevind. Dit was kort voor middernag toe Grobler Doriyo in sy voertuig betrap het, waarna Doriyo hom met ‘n mes begin steek het.

Hoewel hy nie die messteke gevoel het nie, het hy die warm bloed aan sy lyf voel afloop.

“Ek het gedink dit was my dag van doodgaan,” sê die getraumatiseerde Grobler.

Doriyo se ma het ’n paar jaar in Grobler se kombuis gewerk. Doriyo het ook soms vir die gesin as kelner gewerk en op Grobler se perseel gewoon.

“God weet hoe jy dink jy steek die man dood wat jou en jou ma gratis laat inbly,” sê Grobler.

Na die aanval is Grobler vir 13 dae in die hospitaal behandel en moes daarna nog etlike weke tuis in die bed deurbring.

Hy is later nog twee keer in die hospitaal opgeneem weens ’n dermverstopping en moes ’n buikbreukoperasie ondergaan. Nadat die eerste operasie misluk het, is dit in Julie 2025 herhaal.

“Ek sit nou net met tien littekens en ’n buik wat lyk of ek ’n haai-aanval oorleef het,” sê hy.

Hoewel Grobler meen hy het emosioneel herstel, vermoed hy dat die posttraumatiese stres steeds iewers onder die oppervlak skuil.

Beskuldigde wou blykbaar skuld beken

Doriyo is kort ná die aanval in hegtenis geneem, maar later op eie verantwoordelikheid vrygelaat.

Volgens Grobler was die gemeenskap woedend oor die besluit. Hy sê Doriyo het daarna na Malmesbury gevlug en is later as ’n voortvlugtende gesoek nadat hy nie in die hof verskyn het nie.

Grobler het in die hof getuig, maar sê hy het nie elke sitting bygewoon nie.

Nadat Doriyo op eie verantwoordelikheid vrygelaat is, het hy na bewering ‘n minderjarige meisie verkrag en haar probeer vermoor.

“Ek kry die meisie so jammer, dit moes nooit met haar gebeur het nie,” het Grobler beklemtoon

Grobler sou graag die minderjarige meisie wou ontmoet wat volgens hom ook ’n slagoffer van Doriyo was. Hy sê hulle deel ’n donker skaduwee en dat hy graag met haar in kontak wil kom.

LEES OOK: Wolseley-plaaswag, polisie werk aan veiligheidsplan om plaasaanvalle in gebied hok te slaan

Volgens Grobler het Doriyo midde-in sy verhoor in die streekhof in die Paarl aangedui dat hy skuld wou beken op die aanklagte teen hom.

Hy sou volgens Grobler op 18 November weer in die hof verskyn om erkenning te maak, waarna die saak na verwagting afgehandel sou word.

Hoewel Doriyo nooit skuldig bevind is aan die aanval op Grobler nie, het dié aanduiding volgens hom soos ‘n erkenning van skuld gevoel.

Hy sê die polisie en die streekhof se aanklaer het hul werk goed gedoen. Hy meen egter die landdros in Wolseley moes Doriyo nie op eie verantwoordelikheid vrygelaat het nie.

Volgens Grobler het die ondersoekbeampte aangedui dat Doriyo se dood op ‘n vroeëre selfmoordpoging volg.

‘Moenie jou lewe op wag sit nie’

Grobler se boodskap aan ander misdaadslagoffers is om nie hul lewe te laat ophou terwyl hulle op geregtigheid wag nie.

“Moenie jou lewe op wag sit nie. Die wiel draai bitter stadig, maar karma sal jou aanvaller kry, of dit nou deur die regstelsel of op ander wyse is.”

NovaNews het uitgereik na Singabakho Nxumalo, ‘n woordvoerder van die departement an korrektiewe dienste, maar geen terugvoering is tot dusver ontvang nie.














You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article