‘n Plaaslike atleet, Danél Louw, maak opslae in die vinnig groeiende wêreld van Hyrox-kompetisies.

‘n Plaaslike atleet, Danél Louw, maak opslae in die vinnig groeiende wêreld van Hyrox-kompetisies, met ‘n reeks oorwinnings op nasionale en internasionale vlak. Vir dié 28-jarige sportvrou is oefen van kleins af tweede natuur.

“Ek hardloop vanaf ek kan onthou. Ek het dit maar net nog altyd geniet om te beweeg en dit het my natuurlik aangetrek na sport,” vertel Louw.

Hoewel atletiek haar eerste liefde was, reeds van laerskooldae af, het haar prestasies eers op hoërskool begin uitstaan.

Vandag fokus sy hoofsaaklik op Hyrox, ‘n veeleisende kompetisie wat hardloop en hoë intensiteit- en kragoefening kombineer.

lkok
Danél Louw neem eersdags aan die Hyrox-wêreldkampioenskap in Swede deel. Foto: Verskaf

Louw neem steeds deel aan padwedlope soos die 10 km, asook halfmaratonne.

Sy streef daarna om voltyds as professionele atleet mee te ding, maar werk tans deeltyds as kinderkinetikus en persoonlike afrigter by ‘n plaaslike gimnasium, FitLife, wat in die Paarl en Wellington gesetel is.

Lang lys prestasies

Louw het weer eens haar merk gemaak by Hyrox Suid-Afrika wat van 3 tot 5 April in die Cape Town International Convention Centre (CTICC) in Kaapstad gehou is. Sy het al drie haar afdelings – naamlik pro-solo-vroue, pro-dubbels-vroue en gemengde dubbels – gewen en het ook verlede jaar al drie nasionale Hyrox-kompetisies in haar verskeie kategorieë gewen.

Op internasionale vlak het sy direk ná die nasionale kompetisie na Poland gereis waar sy aan die gesogte Elite 15 deelgeneem en in die solo-kompetisie 13de geëindig het. Sy het ook saam met haar spanmaat ‘n derde plek in die dubbels-afdeling behaal.

Die Hyrox Elite 15 is die voorste kompetisiereeks en die professionele afdeling van Hyrox waar die wêreld se top-15 mans- en vroue-atlete vir ‘n plek in die Hyrox-wêreldkampioenskap meeding.

Daar is verskeie Elite 15-kompetisies per jaar, met Louw wat reeds aan verskeie deelgeneem het.

Sy het ook op Saterdag 25 April die SportSA 10 km-wedloop met ‘n tyd van 37 min en 13 sek. gewen. Verlede jaar was sy ook die wenner.

Louw was ook verlede Vrydag (1 Mei) die eerste vrou oor die wenstreep in die Rhodes Quality halfmarathon wat in Wellington gehou is.

Grootwordjare

Louw het in Standerton in Mpumalanga grootgeword en by die Hoërskool Standerton gematrikuleer. Sy woon die afgelope vyf jaar in die Paarl.

“My man kom van hier af, so dit was ‘n maklike keuse om hierheen te trek,” sê sy.

Hoe werk Hyrox?

Volgens Louw kan enigiemand aan gewone Hyrox-byeenkomste deelneem, maar deelname aan die Elite 15 vereis ‘n kwalifikasie.

Daar is jaarliks vier Elite 15-major- kompetisies, asook streeksbyeenkomste, genaamd regionals, wat verskillende kontinente verteenwoordig, en dan uiteindelik die wêreldkampioenskap.

kpkpolp
Danél Louw kruis die wenstreep by die onlangse Rhodes Quality halfmarathon. Foto: Ernest Kilowan

Oor die afgelope paar jaar het ‘n atleet se kwalifikasie berus op die ge- middeld van sy/haar twee vinnigste tye in die pro-solo-afdeling, asook die beste tyd in die dubbels-afdeling.

Hierdie resultate word op ‘n wêreld- ranglys geplaas, waarna die top-15 atlete vir deelname aan ‘n major kwalifiseer.

Daar is gewoonlik ‘n afsnydatum twee tot drie weke voor elke major, waarna die top-15 op daardie stadium bevestig word.

Vir die wêreldkampioenskap kwalifiseer drie atlete by elke major-kompetisie.

Die stelsel sal egter volgende seisoen verander na ‘n puntestelsel, waar atlete punte volgens hul posisies verdien.

Toekomsplanne

Louw het eers in September 2024 haar eerste Hyrox aangepak en reeds in Oktober 2025 haar debuut in die Elite 15 gemaak.

Vanjaar mik sy ook hoog.

“Ek gaan deelneem aan Hyrox Johannesburg einde Mei. Die groot kompetisie is egter die wêreldkampioenskap waar ek aan die Elite 15-dubbels gaan deelneem, asook aan die aflos-afdeling,” sê sy.

“Die nuwe seisoen begin ook weer Oktober.”

Die wêreldkampioenskappe word vanjaar van 18 tot 21 Junie in Swede gehou.

Dissipline en voorbereiding

Haar oefenprogram is veeleisend en op uithouvermoë en krag gefokus.

“My oefening behels baie hardloop, kragwerk en ‘n kombinasie daarvan. Dit is belangrik om gekondisioneerd te wees om ná ‘n funksionele oefening te kan hardloop,” verduidelik sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article