’n Gesin en hul familie van Wellington moet nou sonder hul “sonskynkind” voortgaan nadat Dewald Naudé (31) se lewe, wat volgens sy suster, Brumilda Naudé, deur liefde, lag en ’n sprankelende teenwoordigheid gekenmerk is, Saterdag (3 Oktober) in Hongkong tot ’n einde gekom het.
Die presiese oorsaak van die oud-Boishaaier se dood is nog onbekend. Sy familie wag op die uitslag van ’n lykskouing.
Volgens Brumilda is hy in Januarie in die hospitaal opgeneem nadat hy tydens ’n rugbywedstryd harsingskudding opgedoen het, wat tot bloeding op die brein gelei het. Hy het kort daarna ’n operasie ondergaan. Hy is op Brumilda se verjaardag dood.
Rugby was sy lewe
Volgens Brumilda was rugby vir Naudé veel meer as net ’n sport. Dit was ’n groot deel van hom en iets waaroor hy met soveel passie gepraat het dat sy opgewondenheid aansteeklik was.
“Hy was mal oor die adrenalien van rugby. Fisieke en geestelike krag was vir hom belangrik. Hy was vreeslik taai,” vertel Brumilda.
Naudé het sy rugbyloopbaan by Hoër Jongenskool Paarl afgeskop, waar hy vir die eerste span gespeel het. Hy is ook vir die WP-Cravenweek en later die SA o.18-groep gekies en het vir WP o.21 uitgedraf.
Volgens Brumilda het hy aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria studeer, waar hy vir Maties en UP-Tuks in die Varsitybeker gespeel het. Hy was ook die 7’s-kaptein van Tuks en het later vir die Vodacom Blue Bulls gespeel.
Deel van die familie se grootste trots was volgens Brumilda om haar broer op televisie te sien speel en sy naam telkens deur kommentators te hoor.
“Sy rugby was opwindend om te kyk. Hy het elke keer met nuwe bewegings gekom,” het sy vertel.
Volgens Brumilda het hy elke oomblik van die spel geniet.
“Rugby was sy lewe.”
Sy afrigters het hom volgens Brumilda geprys vir die positiwiteit en lig wat hy op die veld gebring het. Hy het glo byname soos “Speedster”, “The GOAT”, “Yster” en “Habana” gekry.
’n Nalatenskap wat voortleef
Naudé se dood het ook ’n stroom huldeblyke van oudspanmaats, afrigters, skoolvriende en ondersteuners ontlok. Die Hoër Jongenskool Paarl Old Boys’ Union het sy medelye met die Naudé-familie uitgespreek en hom saam met die klas van 2013 onthou.
Sy beste vriend, die rugbyspeler Marco van Staden, het ook op sosiale media hulde aan hom gebring. “Die Here hou jou nou vas en Hy het al jou seer weggeneem. Hy het jou vir ons geleen vir ’n kort ruk en jy het elke dag ’n smile op my gesig gesit en my laat vergeet van enige kommer – maak nie saak waar jy in die wêreld was nie. Jy het almal bo jouself geplaas in die moeilikste tyd van jou lewe, sodat daai siekte vir Dewald Donald Naudé nie ’n dag kon verander nie. En so sal ons jou vir altyd onthou,” het Van Staden in ‘n plasing op Instagram gesê. (sic)
Hy het Naudé ook as dapper beskryf.
Volgens Brumilda het Van Staden haar broer perfek beskryf en hom onthou as iemand wat selfs in die moeilikste tyd van sy lewe ander bo homself geplaas het en altyd met ’n glimlag bly voortgaan het.
Brumilda het ook vertel van haar ma se gesprek met Naudé se voormalige atletiekafrigter, Sidney Bartlett, wat gesê het haar broer het die vermoë gehad om ’n mens sy teenwoordigheid te laat voel, selfs wanneer hulle net telefonies gepraat het.
“Hy was soos ’n seun vir my; ek is baie lief vir hom,” het Bartlett volgens Brumilda gesê.
’n Mens met ’n sprankelende persoonlikheid
Volgens Brumilda was dit nie net Naudé se talent op die rugbyveld wat ’n indruk op mense gemaak het nie.
Sy beskryf haar broer as snaaks, lewenslustig, motiverend, warmhartig, gelowig en wys, met ’n aansteeklike lag. Hy was volgens haar lief vir die see, draf, boeke, goeie kos en familietyd.
Hy het ook ’n besonderse verhouding met sy 14-jarige peetkind, Zach (Brumilda se seun) gehad.
Een van haar mooiste herinneringe is toe Naudé spesiaal van Pretoria af gevlieg het om Zach se eerste interskole-wedstryd by te woon voordat hy dieselfde aand weens sportverpligtinge weer teruggevlieg het.
“Hy het altyd almal se belange voor sy eie gesit; so onbaatsugtig en goedhartig was hy,” sê sy.
Sy ma, Amanda, het hom as haar “sonskynkind” beskryf. Sy was enkele weke voor sy dood saam met hom in Hongkong en kon nog kosbare tyd saam met hom deurbring.
Volgens Brumilda onthou haar ma hom vir sy oneindige liefde, kalmte, grappies, krag, geloof en wysheid.
Brumilda sê dit is juis sy menswees wat die grootste leemte in die familie laat.
“Sy grootste kenmerk was gewis sy sprankelende persoonlikheid en sy vriendelikheid; sy aansteeklike lag, sy vasberadenheid, sy glans, sy sjarme, sy lig – hy was net ’n groot vreugde,” het sy beklemtoon.
Kosbare herinneringe
Een van Brumilda se kosbaarste herinneringe is hoe die twee mekaar gereeld daaraan herinner het dat hulle lief is vir mekaar, saam na gospelmusiek op hoë volume geluister het as hulle iewers heen gery het en mekaar aanhoudend geterg en laat lag het.
“Ek gaan sy glimlag en teenwoordigheid so baie mis. My hart is stukkend.”
Brumilda sê haar broer het altyd ander mense se belange voor sy eie gestel en beskryf hom as iemand wat moedig, veerkragtig, passievol, wys en respekvol was.
Sy wil hê Naudé moet onthou word vir sy vrolikheid, sprankel, optimisme, opregtheid, moed, vriendelikheid, respek, positiwiteit, motivering, kalmte, uitstraling, mededingendheid en toewyding.
“My broer se teenwoordigheid en menswees was merkwaardig.”
Naudé se gunsteling-aanhaling was: “If the why is big enough, the how becomes easy.”
Volgens Brumilda het een van Naudé se onderwysers, ene mev. Redelinghuys, hom op skool die bynaam “Golden Boy” gegee – iets wat volgens haar sy persoonlikheid perfek beskryf het.
Die familie het intussen besluit om die Dewald Naudé-stigting ter ere aan hom te begin. Meer besonderhede hieroor sal later bekend gemaak word.
Brumilda het ook gevra dat verkeerde en onbevestigde inligting oor haar broer se dood nie verder versprei word nie.
Sy het haar dank namens die familie uitgespreek teenoor die gemeenskap, ondersteuners, vriende, afrigters en oudspanmaats vir hul ondersteuning en liefde vir Naudé.
“ ’n Fenomenale mens soos my broer verdien om onthou te word en sy nalatenskap moet geëer word.”
Die familie het nog nie begin om sy begrafnis of troosdiens te reël nie.
LEES OOK: Rugby community mourns death of former Varsity Cup star Dewald Naudé



