Die Vrystaat se bek-en-klouseeruitbreking het 604 bevestigde gevalle bereik nadat nog 11 nuwe gevalle hierdie week aangemeld is.
Die departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het bevestig dat nuwe gevalle in die staatsveeartsenygebiede van Bethlehem, Boshof en Bloemfontein aangemeld is.
Die uitbreking raak 19 munisipale gebiede. Honderde plase is onder kwarantyn en streng bewegingsbeperkings is van krag.
Meer as 609 915 beeste is reeds ingeënt. Die departement ontvang steeds groot getalle aansoeke vir inenting, maar waarsku dat nie alle plase onmiddellik geakkommodeer kan word nie omdat hoërisikogebiede voorkeur geniet.
Alle besmette plase is onder streng kwarantyn geplaas. Plase binne ‘n radius van 10 km van bevestigde uitbrekings is ook onder voorsorgkwarantyn geplaas totdat toesig- en toetsprosesse afgehandel is.
Die departement het gesê sommige produsente hou nie meer streng by biosekuriteitsprotokolle nie.
Boere word versoek om enige tekens van die siekte, insluitend oormatige speekselafskeiding, sere in die bek en mankheid, onmiddellik aan staatsveeartse of dieregesondheidstegnici aan te meld.
Die departement het gesê die onwettige beweging van diere uit kwarantyngebiede sonder die vereiste dokumentasie bly ‘n misdryf.
Bevestigde gevalle per gebied:
- Kroonstad (Moqhaka) – 111 gevalle
- Heilbron (Ngwathe) – 93 gevalle
- Frankfort (Mafube) – 74 gevalle
- Bethlehem (Dihlabeng en Nketoana) – 67 gevalle
- Sasolburg (Metsimaholo) – 61 gevalle
- Ladybrand (Mantsopa en Setsoto) – 46 gevalle
- Welkom (Matjhabeng en Nala) – 43 gevalle
- Warden (Phumelela) – 40 gevalle
- QwaQwa (Maluti-a-Phofung) – 28 gevalle
- Bultfontein (Tswelopele en Masilonyana) – 10 gevalle
- Boshof (Tokologo) – 10 gevalle
- Fauremith (Kopanong en Letsemeng) – agt gevalle
- Smithfield (Mohokare en Mangaung) – sewe gevalle
- Bloemfontein – vier gevalle
- Thaba Nchu – twee gevalle
Vereistes vir boere:
- Meld alle vermoedelike gevalle onmiddellik aan
- Beperk die beweging van gekloofde hoefdiere
- Ontsmet voertuie en toerusting gereeld
- Plaas nuwe vee vir minstens 28 dae in afsondering
- Hou volledige rekords van alle vee- en besoekersbewegings
- Gehoorsaam alle kwarantyn- en biosekuriteitsvoorskrifte






