Die El Niño-stelsel se impak op landbougewasse sal dalk nie so groot wees nie.
Die El Niño-stelsel se impak op landbougewasse sal dalk nie so groot wees nie.

El Niño het dalk nie so groot effek op somergewasse


BLOEMFONTEIN – Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is in die nuutste verslag van die Nasionale Oesskattingskomitee op 17,402 miljoen ton gestel. Dit is 0,23% of 39 200 ton meer as die vorige skatting van 17,363 miljoen ton.

Die komitee sê indien dit sou gebeur, sou dit die grootste mielie-oes op rekord wees. Die verwagte gemiddelde opbrengs is 6,39 t/ha. Die geskatte mielie-oes is 4,05% of 676 840 ton meer as die 2025-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 82% van die 2026-oes produseer.

Prof. Linus Franke van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit natuurlike en landbouwetenskappe; en navorsingsvoorsitter van die Landbou-navrosingsraad, die Departement van Landbou en die UV se navorsing (ARC/UFS/DoA) oor klimaatsveranderingsimpak en die impak op landbou, sê die El Niño se trefkrag behoort nie so groot te wees soos vorige jare nie.

Franke sê historiese data wys dat ‘n sterk El Niño-stelsel geassosieer word met ‘n kleiner opbrengste in die somerreënvalstreek in Suid-Afrika.

“Die El Niño-stelsel wat nou ontwikkel, is baie sterk. Dit lyk egter of groot gedeeltes van die somerreënvalstreek goeie water-reserwes het danky goeie somerreënval en laat buie in die herfs. Die grondvog lyk daarom heel goed. Dit behoort die impak van die El Niño op gewasse minder te maak as met vergelykbare super-El Niño-stelsels van die verlede.”

Lees ook: Vrystaatse boere staal hulle vindingryk vir El Niño se droër tyd, maar dit kán reën.

Franke sê hy dink nie die mielie-opbrengs gaan dieselfde of meer wees as verlede jaar se seisoen nie. “Mieliepryse is nou laag en insetkoste soos diesel en kunsmis is hoog weens die geopolitieke onstabiliteit. Dit plaas winsgewendheid van mielie-aanplantings onder druk. Boere sal dus waarskynlik minder mielies plant vir die komende seisoen.”

Die produksieskatting van witmielies is 9,488 miljoen ton, wat 1,03% of 97 000 ton meer is as die 9,391 miljoen ton van die vorige skatting.

Die oppervlakteskatting vir witmielies is 1,675 miljoen ha en die verwagte gemiddelde opbrengs is 5,67 t/ha. Die produksieskatting vir geelmielies is 7,914 miljoen ton, wat 0,73% of 57 800 ton minder is as die 7,972 miljoen ton van die vorige skatting.

Die oppervlakteskatting is 1,050 miljoen ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 7,54 t/ha. Die oppervlakteskatting vir totale mielies is effens verhoog na 2,724 miljoen ha, wat 0,29% of 8 000 ha meer is as die 2,716 miljoen ha wat in Februarie 2026 geskat is. Die aanpassing in die oppervlakte is gebaseer op bykomende inligting wat uit die ontleding van satellietbeelde beskikbaar geword het. Die satellietbeeldontleding vorm deel van die Nasionale Oesskattingskonsortium se projekuitsette, waarvan die resultate gedurende Julie/Augustus beskikbaar gestel word.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 874 805 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 570 100 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is.

Die produksieskatting vir sojabone is 3,010 miljpem ton, wat 1,11% of 33 650 ton minder is as die 3,044 miljoen ton van die vorige skatting. Dit is die grootste sojaboonoes wat nog aangeteken is.

Die beraamde oppervlakte onder sojabone is 1 212 700 ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 2,48 t/ha. Die verwagte grondboon-oes is verhoog na 62 553 ton, wat ’n toename van 8,23% of 4 755 ton verteenwoordig teenoor die vorige skatting van 57 798 ton. Die oppervlakteskatting vir grondbone is 44 650 ha, met ‘n verwagte opbrengs van 1,40 t/ha.

Die produksieskatting van sorghum is 138 248 ton, wat 3,71% of 5 330 ton minder is as die vorige skatting van 143 578 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 45 000 ha, en die verwagte opbrengs is 3,07 t/ha.

Die produksieskatting vir droëbone het effens afgeneem na 79 155 ton, wat 1,03% of 820 ton laer is as die vorige skatting van 79 975 ton. Die beraamde oppervlakte onder droëbone is 38 520 ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 2,05 t/ha.

Die volgende produksieskatteing is einde September beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article