Nuwe forum gestig vir rooivleisprodusente.
Nuwe forum gestig vir rooivleisprodusente. FOTO: Unsplash

Nuwe forum vir rooivleisprodusente geskep


BLOEMFONTEIN – Vrystaat Landbou nooi primêre rooivleisprodusente van oor Suid-Afrika heen om hul stem te voeg by die nuutgestigte Rooivleisforum. Die forum is daarop gemik om produsente se uitdagings op grondvlak te identifiseer, hul belange te bevorder en samwerking binne die bedryf te versterk.

Friedl von Maltitz, voorsitter van die Rooivleisforum, sê hoewel die forum deur Vrystaat Landbou gestig is, is dit nie tot Vrystaatse boere beperk nie. “Produsente van alle provinsies word genooi om aan te sluit en deel te neem aan ’n groter, gesamentlike poging om ’n volhoubare en winsgewende rooivleisbedryf in Suid-Afrika te bevorder.

“Dit is belangrik dat produsente se werklike behoeftes en uitdagings gehoor word en op die regte platforms geopper en aangespreek word,” Von Maltitz.

Hy sê dat die Rooivleisforum as ’n kommunikasie- en samewerkingsplatform sal dien waar knelpunte vroegtydig geïdentifiseer, relevante bedryfsinligting gedeel en produsentebelange sterker verteenwoordig kan word.

“Die fokus is op dit wat vir produsente saak maak, naamlik die volhoubaarheid en winsgewendheid van hul ondernemings, asook die langtermyn-toekoms van die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf.”

Lidmaatskap is oop vir primêre rooivleisprodusente oor Suid-Afrika heen, ongeag in watter provinsie hulle boer.

Bestaande Vrystaat Landbou-lede kan gratis vir die Rooivleisforum registreer, terwyl ander produsente kan aansluit teen ‘n minimum bedrag van R100 per maand of R1 200 per jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article