Die aktrise Kate Roothman, wat veral bekend is vir haar rol as dokter Nicolette in die kykNET-sepie Binnelanders, neem die leisels oor as die nuwe aanbieder van die gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou.
Sy volg Reandi Grey op en word die agtste aanbieder van die program, waarin boere die kans kry om liefde te vind.
Vir Roothman is die nuwe rol ’n groot voorreg wat sy met opgewondenheid, maar ook nederigheid, aanpak.
“Boer soek ’n vrou is so ’n geliefde deel van Suid-Afrikaanse kultuur. Om in die voetspore van die wonderlike vroue voor my te tree, is ’n groot eer,” sê sy in ’n eksklusiewe onderhoud met Ewan Strydom van Bravo!.
Die onderhoud word Donderdag 22 Oktober om 21:00 op kykNET uitgesaai.
Hoewel kykers haar as die ambisieuse dokter Nicolette leer ken het, sal hulle nou ’n ander kant van die aktrise sien.
Roothman wil veral ’n ondersteunende rol speel deur na die deelnemers se stories te luister en hulle deur die emosionele uitdagings van hul soeke na liefde te begelei.
Sy hoop om humor te bring wanneer die spanning hoog loop, maar ook ’n veilige ruimte te skep wanneer emosies die oorhand kry.
Die plaaslewe is vir Roothman geen vreemde terrein nie. Sy het op ’n plaas naby Sannieshof in Noordwes grootgeword, waar haar kinderjare gevul was met perdry, visvang en speletjies in die modder totdat die spreiligte aangeskakel is en dit tyd was om huis toe te gaan.
“Daardie gees van vryheid, harde werk en eenvoud is iets wat altyd by my sal bly. Die eerlikheid van die platteland herinner my altyd aan wat werklik saak maak in die lewe. Ek voel dadelik tuis wanneer ek op ’n plaas is,” voeg sy by.
Volgens haar lê die geheim van Boer soek ’n vrou se gewildheid in die egtheid van die deelnemers en hul ervarings.
“Dit gaan oor hoop, die natuur en die feit dat almal uiteindelik op soek is na iemand om hul lewe en drome mee te deel. Kykers sien hulself en soms selfs hul eie familie in hierdie stories.”
Dit is veral die klein, spontane oomblikke wat haar bybly, soos wanneer ’n boer besef dat die regte persoon dalk reeds voor hom of haar staan. Volgens Kate wys dié oomblikke dat liefde nie noodwendig groot gebare vereis nie.
Sy het ook groot waardering vir Grey se bydrae tot die reeks en die warmte waarmee sy die deelnemers benader het.
“Reandi het ’n ongelooflike warmte, styl en natuurlike empatie na die reeks gebring. Sy het die vermoë gehad om dadelik ’n veilige ruimte vir die boere sowel as die pasmaats te skep.”

Roothman glo dat ’n aanbieder meer as net ’n gesig op die skerm moet wees. Die rol behels ook dat deelnemers die aanbieder as ’n vertroueling moet kan beskou.
Sy meen eerlike gesprekke ontstaan nie noodwendig in formele omgewings nie, maar dikwels tydens alledaagse aktiwiteite.
“Jy móét mense ontmoet waar hulle is. Nie almal sit graag rondom ’n tafel en praat oor hul diepste gevoelens nie. Soms gebeur die beste gesprekke terwyl jy saam aan iets werk, langs ’n bakkie staan of iewers heen ry.”
Die aktrise sien daarna uit om die boere te ontmoet, hul leefwêrelde te leer ken en verskillende dele van Suid-Afrika te verken. Tog besef sy dat die verantwoordelikheid om deelnemers met hul persoonlike en emosionele stories te vertrou, groot is.
“Mense vertrou jou met hul hartsake en hul broosheid. Dit is ’n groot rol wat ek met respek aanpak,” sê sy.
Aan die getroue kykers wat haar as die nuwe aanbieder gaan verwelkom, rig sy ’n hartlike boodskap.
“Baie dankie dat julle jul harte en huise vir my oopmaak. Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om hierdie pad saam met julle te stap. Maak seker die koffie is warm en die kussings op die bank is gemaklik. Ons gaan ’n pragtige reis saam geniet.”






You must be logged in to post a comment.