BLOEMFONTEIN – Presies honderd jaar nadat Emily Hobhouse se as in 1926 aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein ter ruste gelê is, word haar lewe hier gevier.
Benewens die opwindende prosessie en byeenkoms wat vir Saterdag 31 Oktober by die Vrouemonument en terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke beplan word, sal ‘n splinternuwe musiekteaterproduksie die merkwaardige Engelse vrou wat een van Suid-Afrika se mees geliefde weldoeners geword het, vier.


Die storie van Emily is van 28 tot 31 Oktober in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein op die verhoog.
Die produksie bring van Suid-Afrika se voorste kunstenaars en musikante byeen. Die oorspronklike teks van die drama is geskryf deur Deon Opperman, en die musiek is gekomponeer deur Janine Neethling, met regie en ontwerp wat deur Nico Scheepers behartig word.
Die rolverdeling bestaan uit Amanda Strydom, Dawid Minnaar, Kate Normington en Greg Viljoen.
LEES MEER: Emily Hobhouse se lewe met massa-viering in Bloemfontein herdenk
Karen Meiring, projekbestuurder van die musiekteaterprduksie, sê Emily Hobhouse is een van daardie skaars individue wat die moed gehad het om die Britse Ryk aan te durf toe dit op die kruin van sy mag was.


“Ongeag die prys wat sy persoonlik moes betaal het, het sy geveg om die vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog te red,” sê Opperman oor die toneelstuk.
“Sy het die Britse ryk na haar wil gebuig en duisende gered het wat andersins sou omgekom het. In Brittanje is sy uit die geskiedkundige rekord gewis. In Suid-Afrika is sy ‘n heldin.”
Haar verslae het die gewete van die wêreld geruk
Emily Hobhouse (1860-1926) het die owerhede van haar eie land getrotseer om die lyding van vroue en kinders in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) aan die wêreld bekend te maak.
Haar verslae het die gewete van die wêreld geruk en haar ‘n lewenslange vriend gemaak van die mense vir wie sy in die bresse getree het. Ná haar dood in Londen in 1926 is haar as na Suid-Afrika gebring en in Oktober van daardie jaar by die Vrouemonument in Bloemfontein ter ruste gelê – ‘n eerbetoon wat aan baie min mense gegun is.
Die produksie verweef Hobhouse se eie woorde, briewe en oorspronklike musiek tot ‘n roerende musiekteaterproduksie.
Kaartjies vir die produksie kos tussen R100 en R250 en is aanlyn op Webtickets beskikbaar. Vertonings sal plaasvind van 28 tot 31 Oktober, elke aand om 19:30, in die Sand du Plessis-teater. Die vertoning is in Afrikaans en Engels.
Lees meer oor die vieringe, teaterproduskie en ‘n kortfilm op die webwerf Emily100. Kaartjies vir die optog op 31 Oktober, wat regstreeks op kykNET uitgesaai gaan word, kos net R15 en is hier beskikbaar.





You must be logged in to post a comment.