STELLENBOSCH – Die gewilde South African 4×4 & Outdoor Show in die Wes-Kaap word vanjaar vir die derde keer aangebied, maar hierdie keer by ‘n splinternuwe terrein naamlik Sandringham by Stellenbosch. Dit vind plaas die naweek van 23 tot 25 Oktober.
Hierdie konsep word al geruime tyd in Gauteng suksesvol aangebied en die afgelope twee jaar se aanbieding in die Wes-Kaap was ‘n groot sukses.
Die hoof-fokus van hierdie geleentheid handel oor 4×4, buitelewe en kampering en daar sal verskeie aktiverings wees. Uitstallings sluit in 4×4-toerusting, kampeertoerusting, braaitoerusting, verskeie voertuie en relevante produkte, woonwaens en kampeer-sleepwaens. Vir die kinders is daar ‘n speelpark om ouers die geleentheid te bied om alles te besigtig.
Kom ontmoet vir Andre de Villiers, aanbieder van 4×4 met Andre op kykNET en kry die geleentheid om saam met hom te ry op ‘n splinternuwe doelgeboude hindernisbaan en ook meer te hoor en sien van Andre se kykNET TV-reeks.
Hierdie jaar laat die nuwe terrein dit ook toe om ‘n 4×4 ‘Extreme Challenge’ aan te bied saam met Cape Offroad 4×4 Challenge Club – iets om nie te mis te loop nie.
Kom kyk ook hoe lyk die terrein en die pragtige Bolandse berge uit die lug saam met Mosselbaai Helikopters
Soos gewoonlik sal daar talle gekeurde kosverskaffers wees, ‘n kunsmark en deli-gedeelte, Simonsvlei-wyntuin en ‘n kroeg en biertuin. Jimmy’s Sauces borg ‘n verskeidenheid kunstenaars wat deur die dag sal optree.
Skoudae is Vrydag van 12:00 af en Saterdag en Sondag van 09:00 af. Koste vir dagbesoekers wissel tussen R60 en R120 met naweekpakette wat ook beskikbaar is. Kinders drie jaar en jonger se toegang is gratis. Kaartjies is aanlyn beskikbaar deur Open Tickets of by die hekke.
Enige uitstallers en aktiveringsnavrae kan gerig word aan Tersia by accounts@ekspo.co.za of by 072 487 0000.
Besoek www.ekspo.co.za vir meer inligting.






