BLOEMFONTEIN – ‘n Vreemde, surrealistiese optog word vir Saterdag 31 Oktober deur Bloemfontein se strate beplan – ‘n heropvoering van die begrafnisstoet van Emily Hobhouse 100 jaar gelede.
Dit was 100 jaar gelede die eerste staatsbegrafnis vir ‘n vrou en die enigste begrafnis van sy soort vir ‘n buitelander wat in die stad plaasgevind het.

Die lewe van Emily Hobhouse, bekend as ‘n merkwaardige pasifis, feminis en humanis vir die werk wat sy tydens die Anglo-Boereoorlog onder veral vroue en kinders gedoen het, gaan op ‘n baie spesiale feesviering Emily100 herdenk word. Dit sluit ‘n heruitvoering van die begrafnisstoet, ‘n spesiale musiekteaterdrama en uitstallings en viering by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein in.
Elsabe Britz, die projekleier van die reuse-projek, het Donderdag 17 September op ‘n bekendstellingsgeleentheid in Artscape, Kaapstad, gesê die idee vir die viering het gespruit uit ‘n besoek aan Emily se geboorteplek St Ive in Cornwall, Engeland, verlede jaar. Dit was toe 165 jaar ná die geboorte van dié merkwaardige, historiese figuur. Britz is ook die skrywer van die ‘n boek Emily Hobhouse Geliefde Verraaier en in Engels Emily Hobhouse Beloved Traitor.

Leerders van die Hoër Meisieskool Oranje en Eunice High School sal soos in 1926 deel wees van die sowat 700 mense wat in kostuums soos wat gedra is 100 jaar gelede, in ‘n begrafnisstoet deelneem.
Die 200 meisies in wit geklee sal voor loop in die stoet, gevolg deur Eunice se koor en die Vrystaatse Jeugblaas-ensamble onder leiding van Dingaan Chabalala wat die mars sal aangee. Hulle sal gevolg word deur ‘n perdekommando.
Die oorspronklike begrafnismars het van die Tweetoringkerk tot by die Vrouemonument oor 4km gestrek, maar ter wille van die praktiese reëlings sal die stoet in Monumentweg oor 600m tot by die monument strek.

By die monument sal dele van die begrafnishandelinge en toesprake uitgebeeld word, met akteurs soos Bloemfonteiner Chris Vorster wat Jan Smuts se toespraak sal voorhou.
Britz sê daar is reeds sowat 400 deelnemers wat aan die stoet gaan deelneem en hulle hoop daar sal uiteindelik 700 wees. “Die klere vir die deelnemers is klaar gemaak. Ons het wonderlike mense wat help met die kostuums vir die geleentheid.”
Om idees te kry vir kostuums, bestaan daar ‘n kort stilrolprent en 30 foto’s van die dag in 1926. “Een van die wonderlike bronne, is die dagboek van Maynie Fleck, een van die hoof-organiseerder van die dag, wat die besonderhede oor die klere oor sowat 300 bladsye neergepen het,” vertel Britz.

Benewens die optog deur die strate wat met ‘n regstreekse uitstending om 11:00 op kykNET uitgesaai sal word, sal daar ook uitstallings en demonstrasies op die terrein van die Oorlogsmuseum wees.
Karen Meiring, projekbestuurder van die musiekteaterprduksie wat deel van die feesvieringe vorm, sê daar gaan uitstallings wees met artifakte van Emily se lewe, sowel as demonstrasies wat vroue gaan lewer van die maak van kant en die spin van wol.
‘n Konsentrasiekamp met agt tente sal besoekers insig gee in die lewe in die kampe tydens die ABO.
Meiring sê daar sal ook tradisionele kos uit die tyd van die oorlog beskikbaar wees, wat dit ‘n ware kulturele ervaring sal maak.
Daar word ongeveer 4 000 verwag en toegang vir Ons Onthou Emily is slegs R15, maar bespreking is noodsaaklik. Dit kan gedoen word op webtickets.
Hekke open om 08:30 en om 10:30 moet almal hul sitplekke inneem vir die regstreekse TV-uitsending.
Die musiekteaterdarma The Story of Emily word van 28 tot 31 Oktober in die Sand du Plessis-teater opgevoer. Dit is ‘n splinternuwe drama deur Deon Opperman, met musiek deur Janin Neethling en regie deur Nico Scheepers. Die rolverdelling is Kate Normington (as Emily Hobhouse), David Minnaar (Lord Milner), Greg Viljoen (Lord Kitchener) en Daneel van der Walt as die verteller.
Kaartjies kos tussen R200 en R320 en is op Webtickets beskikbaar.





You must be logged in to post a comment.