BLOEMFONTEIN. Bekende skrywers soos Fanie Viljoen en Jaco Jacobs, en talle ander, was al deur die jare lid van die Bloemfontein-skrywersvereniging (BSV). Die goeie nuus is dat dié vereniging sy werksaamhede gaan voortsit.
Die BSV is ʼn trotse organisasie wat al langer as 50 jaar bestaan, maar sedert 2019 is daar nie ‘n vergadering gehou nie. ʼn Klomp skrywers en aspirant-skrywers in Bloemfontein het besluit dit is nou tyd om die organisasie te laat herleef.
Nog ‘n skrywer van Bloemfontein, Margarethie Bredenkamp, sê die BSV is landswyd bekend vir die skryfkompetisie wat jaarliks aangebied word.

“Een van ons groot doelwitte is om aan skoolgaande leerders, sowel as aan volwassenes, die geleentheid te bied om aan ʼn nasionale skryfkompetisie deel te neem. Marita van der Vyver het onlangs, toe sy haar nuutste boek in Bloemfontein bekend gestel het, klem gelê op die waarde wat dit vir skrywers het om aan kompetisies deel te neem.”
Jaco en Fanie sê hulle het ook baie baat gevind by die organisasie toe hul loopbaan in die beginstadium was, en hulle wil graag sien dat die BSV voortbestaan, sê Margarethie.
“Hulle was van die eerstes wat hul ledegeld betaal het.”
Die werksaamhede van die organisasie gaan tweeledig wees: Om ʼn tuiste vir gevestigde, gepubliseerde skrywers te bied en ook om ondersteuning aan aspirant-skrywers te bied en leiding te gee.
Presies hoe daar te werk gegaan sal word, sal eers ná afloop van die vergadering en verkiesing van die nuwe bestuur besluit word. Die voorstelle vir die ondersteuning van ontwikkelende skrywers is om werksessies aan te bied en terugvoering op kort stukkies skryfwerk te gee. By die meer gevestigde skrywers is daar die behoefte om soms oor ʼn koppie koffie te gesels oor hul uitdagings en sommer met hul skootrekenaars by ‘n koffieplek te gaan sit en skryf vir ‘n uur.
Oor die werksaamhede van die BSV sal eers besluite geneem kan word sodra daar weer aktiewe lede is en ʼn bestuur gekies is. Volgens beplanning sal twee maal per kwartaal vergader word: agt vergaderings per jaar.
Enigeen wat wil deel word van hierdie geleentheid word genooi om die vergadering op Donderdag 25 September om 18:00 by te woon. Dit word gehou in die Bainsvlei-biblioteek in Boerneefstraat, Langenhovenpark. Veilige parkering is beskikbaar en ‘n veiligheidswag sal ‘n ogie oor die voertuie hou.
Bring R50 om vir lidmaatskap vir 2025-’26 te betaal. Alle nuwe lede kan stem en is ook verkiesbaar vir die bestuur. Bevestig vooraf bywoning deur 082 323 6141 te skakel. Afskrifte van die BSV se grondwet is beskikbaar by hierdie nommer.




You must be logged in to post a comment.