Inskrywing vir die 11de jaarlikse Woordfees-kortverhaalbundel is nou oop vir alle Afrikaanse skrywers.
Die Stellenbosch Woordfees het die volgende aflewering van sy gewilde kortverhaalkompetisie aangekondig, met ‘n toekenning van R30 000 vir die wenverhaal en R5 000 vir elke ander verhaal wat in die bundel opgeneem word.
Instelling
Die kompetisie, wat intussen ‘n literêre instelling geword het, is oop vir alle skrywers wat oorspronklike Afrikaanse kortverhale wil voorlê.
Inskrywing sluit op 1 April 2026, om 17:00.
“Hierdie bundel dien as ‘n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees weerspieël met elke oes kortverhale,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees.
Die kompetisie het reeds verskeie bekende skrywers opgelewer, insluitend die bekroonde Lynthia Julius. Wenverhale deur Michèle Meyer, Clari Niemand en Hendie Grobbelaar is selfs tot Silwerskermfees-kortflieks verwerk.
Tarina Jordaan het vanjaar die kompetisie gewen.
Nuwe siklus
Suzette Myburgh, sameroeper van die keurpaneel, sê die tiende bundel se publikasie in Oktober het ‘n nuwe siklus ingelui.
“In die afgelope dekade het ons 2 829 verhale beoordeel, waarvan 239 gepubliseer is. Ons het die bundel van krag tot krag sien gaan met inskrywings van hoogstaande gehalte.”
Die organiseerders moedig alle skrywers aan om deel te neem, ongeag hul ervaring. Daar is geen voorgeskrewe tema nie – skrywers kan skryf waaroor hulle wil.
Kompetisiereëls
Verhale moet tussen 1 500 en 3 000 woorde lank wees en moet die skrywer se oorspronklike, ongepubliseerde werk wees. Verhale wat met kunsmatige intelligensie geskep is, word nie aanvaar nie.
Inskrywing sluit op 1 April 2026, om 17:00.
Keuring word streng anoniem gedoen, en slegs die verhaal se titel mag op die dokument verskyn. ‘n Maksimum van 25 verhale sal vir die bundel gekies word.
Die skrywers wie se verhale gekies word, sal in Julie volgende jaar bekend gemaak word, en die wenverhaal sal tydens die 26ste Stellenbosch Woordfees aangekondig word.
Ontvangs van inskrywings sal van 2 Februarie af binne drie werksdae bevestig word.
Besoek die Woordfees se webwerf vir meer inligting.
Rig navrae aan bemarking@woordfees.co.za.


