Individue, groepe, sportspanne en besighede wyd en syd word genooi om deel te wees van die skepping van ‘n aasvoël-geoglief met nagenoeg 17 000 kalkklippe wat by Van Zylsrus in die Noord-Kaap geskep gaan word.
Dié geoglief van ongeveer 311m x 116m word deur die landskapskunstenaar Anni Snyman, haar broer PC Janse van Rensburg, kunstenaarsvriendekring, en enige vrywilliger gevorm.
‘n Geoglief is ‘n groot ontwerp of patroon op die grond, tipies gemaak deur klippe, rotse of grond te rangskik, of deur grondbedekking te verwyder. Hierdie ontwerpe is gewoonlik vanuit die lug sigbaar. Die Nazca-lyne in Peru, bekend vir hul ingewikkelde geometriese en soömorfiese vorms, is waarskynlik die bekendste geogliewe ter wêreld.

Pieter Pienaar, direkteur van Bridge Co Creators en organiseerder van die eerste kunsteweek in Van Zylsrus wat van Dinsdag 7 Oktober tot Donderdag 9 Oktober plaasvind, vertel dat die skep van dié aasvoël-geoglief oor drie weke strek. Snyman en haar span begin op 28 September met dié enorme taak wat volgens beplanning teen 12 Oktober afgehandel sal wees. Die geoglief sal dan as ‘n Google Earth-landmerk geken word.
Nadat Snyman en haar broer in Augustus die omgewing besoek het, het die beplanning vir die aasvoël-geoglief behoorlik vlerke gekry. Trollope Mining Mokala Manganese het twee enorme mangaanklippe geskenk wat nodig is vir die oog en die kloue van die aasvoël; dit word ook deur hulle afgelewer. De Witt-padwerke het reeds twee vragte klip en gruis geskenk, en Kobus Duvenhage Bouers en die plaaslike boeregemeenskap het hulp aangebied.
Persone wat die kunsteweek bywoon kan hetsy self hierby betrokke raak, of dié geskiedkundige gebeurtenis gadeslaan.
“Kom bied jul hulp aan – die Noord-Kaapse gemeenskap kry ‘n unieke landmerk,” nooi Pienaar. Hy stel voor dat sportspanne, groepe en organisasies mekaar uitdaag om elk 1 000 klippe te pak.
Toe Pienaar met die beplanning van die kunsteweek tydens die Oktober-skoolvakansie begin het, was hy aangenaam verras om ‘n boodskap van Snyman te kry dat sy belangstel om betrokke by die kunsteweek te wees, maar deur ‘n aasvoël-geoglief op private eiendom in die gebied te skep – heeltemal gratis, mits die gemeenskap gratis verblyf verskaf, asook ‘n middagete elke dag.
“Een ding het tot ‘n ander gelei en die eienaar van die plaaslike Van Zylsrus-hotel, Elbie Jonker, het die perseel wat feitlik langs die dorpie is verskaf, asook die verlangde verblyf.”
Voltooide geoglief dra by tot inkomste, aasvoëlbewaring
Met voltooiing van die geoglief sal dit, as ‘n ononderbroke lyn, ‘n wandelpad van ongeveer 3,5 km wees. Ná voltooiing kan dit boonop ‘n inkomste vir lede van die plaaslike gemeenskap wees: Toergidse sal opgelei word om besoekers by die toeriste-aantreklikheid te vergesel en inligting te verskaf.
Deel van die toegangsgeld wat die besoekers betaal sal aan die bewaring van aasvoëls geskenk word. Van Zylsrus is juis die sentrum van ‘n internasionale aasvoëlbewaringsprojek wat deur Franse weldoeners befonds en onderhou word.
Pienaar vertel dat die skep van dié aasvoël-geoglief baie uitdagings inhou. Afgesien van die duisende kalkstene wat versamel moet word en die tekening wat noukeurig uitgevoer moet word, moet kunstenaars en hul helpers hierdie duisende klippe noukeurig op die aangeduide lyne pak.
Die pak van die klippe sal daagliks ‘n “leër” van ongeveer 25 tot 30 kunstenaars en helpers benodig, wat van sonop tot sononder werk. Geen leër kan egter op ’n leë maag marsjeer nie. Daarom word individue en besighede genooi om deur middel van skenkings of borgskappe betrokke te raak.
Middagetes vir ongeveer 30 mense per dag kan geborg word – hetsy deur kosprodukte (wat in Van Zylrus afgelewer moet word), of kontantskenkings. Ander benodigdhede soos gebottelde water, energiestafies, bevrore maaltye, ontbytgraan of enige ander snoepery of kosproduk wat kan help om energie te verskaf, is welkom.
Pienaar sê hierdie geleentheid behoort internasionale belangstelling te lok, en besighede wat deur borgskappe betrokke raak, kan ruimskoots deur die blootstelling baat. Diegene is ook welkom om gazebos of baniere op die terrein op te rig waar die geoglief geskep word.

Boonop het ‘n filmmaatskappy met internasionale bande, waarvan Pienaar nog nie die naam bekend wil maak nie, die organiseerders meegedeel dat hulle dit oorweeg om die kunsteweek “aan te neem” en dalk ‘n dokumentêre kortfilm daarvan te maak.
Kunsteweek bied iets vir elke smaak
Intussen verloop reëlings vir die kunsteweek vlot. Die doel van dié kunsteweek is om kuns- en omgewingsbewustheid te stimuleer; om diegene met ‘n begeerte om ‘n kunswerk te skep so ‘n geleentheid in die afgeleë Kalahari te bied; om gratis vaardigheidsopleiding vir alle belangstellende gemeenskapslede te bied; en om moontlik ekonomiese aansporings te wek om die gemeenskap te bevoordeel.
Pienaar vertel dat dit aanvanklik die idee was om die klem slegs op die beoefening van visuele kuns te laat val, maar mettertyd is besef dat skrywers ook in die omgewing sal wil saamtrek – met belangstelling wat oorweldigend was.
Weens dit het ‘n storievertel-oggend en ‘n skrywers- en digtersmiddag op die program vir 8 Oktober verskyn. Die Noord-Kaap se Kalaharistreek spog reeds met vele digters en skrywers met ‘n gepubliseerde boek of twee in die hand het.
“Kom ontmoet hulle in Van Zylsrus en laat hulle jou inspireer om ook jou verhaal neer te pen. Heleen Bruwer, Chummy de Bruin, Zelda Mans, Tarina van der Rijst en Ernalize du Toit is van die skrywers wat oor hul boeke gaan praat en ook woordkunswenke gaan verskaf.” – Pieter Pienaar
Hy vertel dat die beplanning vir die visuele kuns se aktiwiteite ook ‘n paar spronge vorentoe gegee het. In Junie het Carol Preston, ook van Bridge Co Creators, Sishen toe gevlieg om vir die eerste maal kennis te maak met die gemeenskap van Van Zylrus. Sy het ook die ruimte waar sy in Oktober gratis bricolage-beeldhouklasse gaan aanbied, besigtig.
Die lys van kunstenaars wat teenwoordig gaan wees, het intussen langer geword en hulle kom van heinde en verre. Karen Visser, Cryselda Venter, Lizel Lubbe, Karlin Grobler, Ida Hutton, Abigail Beukes, Thabo Pitso, Shane Mayongo, Izak Vollgraaff en Balfour Lekgwathi is van die gevierde kunstenaars met wie jy sal kan kennis maak.

Tydens die drie dae van die kunsteweek word ‘n verskeidenheid kunsklasse en -tegnieke in verskeie mediums aangebied. ‘n Pottebakkerykursus vind ook plaas, en gratis “kunspret” vir die plaaslike skool se leerlinge. Van die teken- en verfsessies word in die buitelug aangebied.
Persone wat die kunsteweek bywoon is verantwoordelik vir hul eie vervoer, verblyf en etes.
Plek by spesifieke kunsonderwysers moet vooraf bespreek word, en ‘n deposito is betaalbaar. ‘n Registrasiefooi dra by om onder meer die venues en plaaslike helpers te betaal.
- Vir meer inligting oor die kunsteweek en om by die skepping van die geoglief betrokke te raak, kontak vir Pienaar by 083 585 3512 of skryf aan hom by pieter.abraham@gmail.com.
- Kontak hom ook vir ‘n volledige lys van alle plekke waar verblyf beskikbaar is, vir die volledige program van die kunsteweek, die kontaknommers van die kunstenaars, asook ‘n lys van benodigdhede.

natuurskoon en gasvryheid kombineer. Foto: Facebook / Van Zylsrus Hotel








You must be logged in to post a comment.