Ná ‘n idee sowat vyf maande gelede in die “klipkonstabel” van Van Zylsrus se “breintreintjie op en af begin ry het”, het die reëlings vir ‘n eerste Geoglief-fees tot stand gekom en vind dié feestelikheid op Saterdag 9 Mei in dié Kalahari-dorp plaas.

Die doel van die fees, vertel klipkonstabel Pieter Pienaar, is om die unieke aasvoëlgeoglief wat met meer as 38 000 wit klippe uitgepak is, amptelik in te wy.

Gemeenskapslede van Van Zylsrus.
Van die gemeenskapslede van Van Zylsrus wat die geogliefspan, borge en werkers vir die totstandkoming van die geoglief bedank. FOTO: Verskaf

Dié geoglief van ongeveer 311 meter x 116 meter is deur die landskapskunstenaar Anni Snyman ontwerp, en die eerste ry klip is met die hulp van haar broer PC Janse van Rensburg, kunstenaarsvriendekring, en vrywilligers gevorm. Die laaste afronding word vanaf 1 tot 8 Mei gedoen. Dié geoglief word op Google Earth as ‘n landmerk geregistreer.

LEES OOK: Aasvoël-geoglief sprei sy vlerke in die Kalahari-sand

Pieter vertel hy was die klipkonstabel van dié projek wat moes sorg dat nagenoeg 38 000 kalkklippe met die hulp van Kobus Duvenhage Bouers en die gemeenskap op die terrein afgelaai word.

” ‘n Klip is ‘n klip en nie ‘n hond nie, dit kom nie as jy hom roep nie, dit moet opgetel word en afgelaai word en gebreek word en geskuif word,” vertel hy oor dié moeisame taak.

“In my eie klipkop besluit ek toe dat daar geen manier is dat ons 38 000 klippe gaan versorg en geen basuin daaroor gaan blaas nie… dit gaan oor die grote geoglief wat oor ‘n negemaande periode tot stand gekom het en klaar gemaak gaan word. Dit is so ‘n enorme taak, ons sal net eenvoudig moet feesvier.”

Feesviering van vroeg tot laat

Met die fees in gedagte het hy op Facebook kunstenaars gevra om in die Kalahari-vlakte musiek te kom maak. Só het Jac Coetzee, ‘n sanger van Postmasburg, en die UFO-orkes wat in feeste spesialiseer, met Pieter kontak gemaak en is hulle deel van Saterdag se verrigtinge.

Hierdie Geoglief-fees geskik vir die hele familie bied onder meer geleenthede vir draf, fietsry en perdry aan, in ‘n rustige plattelandse atmosfeer waar musiek gemaak word, stalletjies produkte verkoop, en behoorlik gekuier word.

LEES OOK: Eerste kunsteweek in Van Zylsrus: ‘Opwindend vanaf die eerste oomblik’

Aktiwiteite begin reeds om 07:30.

Atlete kan registreer om vanaf 08:00 in een van vier afstande deel te neem (5km, 10km, of 21km), en fietsryers kan een van drie afstande deelneem (70km, 30km of 10km). Die perderitte begin om 09:00.

Vanaf 11:45 tot 12:45 tree plaaslike en nasionale kunstenaars by die NG kerk op. Tydens die middagete en siesta, kan kos by die stalletjies, hotel of kuierhoekie aangeskaf word.

Vanaf 15:30 tot 18:00 tree die UFO-orkes en Jac Coetzee by die aasvoëlgeoglief op.

Produkte kan gratis uitgestal word – bring jou eie tafel en ander benodighede om ‘n stalletjie te skep. Diegene wat op soek is na oornagverblyf en kampeerplek, kan vir Magda Wessels by 072 520 3597 bel.

  • Kaartjies kan op Quicket gekoop word, of op die dag met kaart of kontant.
  • Vir meer inligting, bel vir Pieter Pienaar by 083 585 3512.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article